Kommer oor bevestigde bek-en-kouseer uitbraak in Modimolle-area
Die VF Plus spreek kammer uit oor bek-en-klouseer gevalle in Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit.
MOKOPANE – Die VF Plus het ernstige kommer uitgespreek oor die onlangse bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit, insluitend Modimolle, Mookgophong, Alma, Vaalwater en Roedtan. Die party sê dit is kommer-wekkend dat die munisipaliteit steeds nie die nodige verordeninge het om die uitbreking te hanteer nie.
Bek-en-klouseer is ‘n hoogs aansteeklike virus wat beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefherkouers raak. Die siekte versprei via speeksel, urine, ontlasting, melk en selfs in die lug wat siek diere inasem.
Dit veroorsaak pynlike blase in die mond, tandvleis, lippe en tong, wat voedselinname bemoeilik en dikwels tot kwyl lei.
Blase tussen die tone en by die hoef kan veroorsaak dat diere mank is en nie wil beweeg nie. Koeie kan sere op hul spene ontwikkel wat skielike dalings in melkproduksie tot gevolg het, en jong kalwers kan aan die siekte sterf.
Volgens die VF Plus het die munisipaliteit sedert die samesmelting van Modimolle en Mookgophong in 2016 nie pogings aangewend om verordeninge by te werk nie.
“Die gebrek aan afdwingbare verordeninge om rondloperdiere en siektes soos bek-en-klouseer te beheer, plaas die plaaslike landbou-ekonomie in gevaar,” sê die VF Plus.
“Rondloperdiere dra by tot die verspreiding van die siekte en lei tot finansiële verliese vir boere, aangesien siek diere gewig verloor, minder melk produseer en soms sterf.”

Die VF Plus het ‘n mosie by die munisipaliteit ingedien, wat vereis dat nuwe, afdwingbare verordeninge binne 60 dae opgestel en in werking gestel word.
Die mosie dring aan op streng beheer van rondloperdiere, en die identifikasie en skut van diere wat vrylik in woongebiede en op openbare paaie rondloop.
Verder moet die munisipaliteit saamwerk met nasionale inperkingsmaatreëls, ondersteuning bied vir bek-en-klouseer-uitsprake en eienaars wat versuim aanspreeklik hou vir skutfooie en skade.
Elzette Smith, bestuurder van die DBV, bevestig dat reeds 11 gevalle van bek-en-klouseer in die Waterberg-area geïdentifiseer is, met 58 verdere toetse wat wag op bevestiging.
Sy waarsku diere-eienaars om onmiddellik ‘n staatsveearts te kontak as tekens van die siekte waargeneem word, aangesien siek diere nie in abattoirs verwerk mag word nie en toerusting streng ontsmet moet word om verdere verspreiding te voorkom.




