Bedrewe Osie-hengelaar met groot drome
Sedert hy op sewejarige ouderdom in die o/13 Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF)-span opgeneem is, het hy elke jaar provinsiale kleure verwerf.
POLOKWANE – Die dag toe RJ Odendaal (9) sy eerste vis gevang het, het hy só groot geskrik dat hy sy visstok laat val het.
Sedertdien het die visvanggogga hom egter behoorlik gebyt, en vanjaar gaan hy Suid-Afrika by die Region 5 Toernooi in Namibië verteenwoordig. Die toernooi vind in Mei plaas.
“Ek is tydens ‘n bulletjierugbydag deur ‘n oom genader nadat daar ‘n artikel in die tydskryf ‘Stywe Lyne’ oor my was, om saam te begin hengel in die Penkoppe-afdeling. My ouers het ingestem en ek het mededingend begin hengel,” vertel RJ.
Sedert hy op sewejarige ouderdom in die o/13 Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF)-span opgeneem is, het hy elke jaar provinsiale kleure verwerf. In Oktober het hy derde geëindig by die SA-skole hengelkompetisie en is daarna vir die o/13A SAVOF-span gekies wat in Namibië gaan deelneem. Hy is een van slegs vier hengelaars in die land wat vir hierdie span gekies is.
Hoewel dit altyd sy droom was om in die span opgeneem te word, erken RJ dat hy nie verwag het dit sou so vinnig gebeur nie.
“Verlede jaar was ek die reserwe vir die span. Ek is dankbaar en trots om hierdie mylpaal te bereik. Ek is ‘n bietjie senuweeagtig, maar baie opgewonde om my land te kan verteenwoordig. Dit is ‘n groot eer om op so ‘n jong ouderdom goed genoeg geag te word om Suid-Afrika te verteenwoordig,” sê hy.
Soos met enige sport verg hengel deeglike voorbereiding. RJ sê hy sou dit nie kon regkry sonder die ondersteuning van sy ouers, Danie en Marisa, en sy afrigter, Werner de Beer, nie. Sy sussie, Duané, is volgens hom sy grootste ondersteuner.
RJ gesels graag oor sy mentor, Werner de Beer, wat die hengelorganiseerder by Oosskool en Limpopo Hengel is.
“By die skool oefen ek my gooie en tegniek onder meneer Werner se leiding. Hy het my geleer dat hengel nie ‘n saak van lewe en dood is nie – dit is belangriker as dit. Hy het my ook geleer dat niks jou so nederig maak soos hengel nie, en dat daar waardevolle lesse in verloor lê.”
RJ deel graag sy kennis met ander jong hengelaars. “Die belangrikste is om te geniet wat jy doen en positief te bly. Dan sal die visse sommer self byt. Daar bestaan nie iets soos ‘n towerdip of perfekte lokaas nie. Hoe meer jy oefen, hoe beter raak jy. Hengel verg harde werk, deursettingsvermoë en lang ure in son, wind en weer. Dit bou karakter, hou jou nederig en bou vriendskappe.”
RJ droom nie net daarvan om die beste hengelaar in die land te wees nie, maar ook om mense aan te raak en ‘n visser van mense te wees.
Die kaptein van die SA-span, Paul Rawsthorne, sê hy is bevoorreg om RJ in die span te hê wat na Namibië reis.
“Hy is ‘n ware aanwins vir sy land, die sport en sy mede-hengelaars. Hy is ‘n gelukkige seun met selfvertroue, of hy nou by die water of op die verhoog is. Hy tree ver bo sy jare op en het ‘n blink toekoms in die sport,” sê Rawsthorne.
“Ek sal nooit genoeg vis kan vang of moeg kan raak om net nog een laaste vissie te vang nie. Daar bestaan nie iets soos te veel visvang nie, maar beslis te min. Ek wens net my ma wil my glo,” sê RJ met ‘n glimlag.



