Local News

Oom Harry (93) van Mokopane se passie vir Harleys

Oom Harry was net nege jaar oud toe hy vir die eerste keer motorfiets gery het, en daar het die gogga reeds gebyt.

MOKOPANE – Oom Harry Hart se hart het behoorlik geblom verlede Sondag toe hy sy 93ste verjaarsdag saam met die motorfietsryers van die Ubuntu Run kon vier.

Oom Harry was net nege jaar oud toe hy vir die eerste keer motorfiets gery het, en daar het die gogga reeds gebyt. “Ek het oor die jare ‘n groot verskeidenheid motorfietse gehad, maar in ‘n stadium het ek besluit Harley-Davidsons is vir my,” vertel hy.

“Net ná die Tweede Wêreldoorlog het my pa elke dag werk toe en terug met ‘n Harley gery. Dis waar die saadjie geplant is.”

Oor die jare het hy altesaam 35 Harley-Davidson-motorfietse opgebou en is vandag trots daarop dat sy motorfietse regoor die land versprei is.

Oom Harry is in Craighall Park in Randburg gebore en het daar grootgeword, maar het aan Bethal Hoërskool gematrikuleer. “Ek het nie veel skoolwerk gedoen nie, net geboks en rugby gespeel,” vertel hy tong-in-die-kies. “Skool was vir my ‘n bysaak.”

Hy was aanvanklik ‘n gekwalifiseerde passer en draaier en later ‘n narkosetegnikus. Sy lewe het egter ‘n romantiese wending geneem toe hy tannie Sannie in Randburg ontmoet het.

Die twee is getroud en uit die huwelik is vier dogters gebore. “Toe my kinders klein was, het ek hulle altyd na Lekkerrus Vakansieoord gebring,” vertel hy. “Met my oudag het ek toe besluit om sommer permanent in die bosveld af te tree.” Sy dogter, Elsie, voeg by: “My pa het die bosveld nog altyd as sy vakansieplek gesien. Nou is hy permanent met vakansie”.

Volgens oom Harry is sy lang lewe en aktiewe gees te danke aan ‘n gesonde leefstyl.

“Ek was baie fiks, het marathons gehardloop en altyd probeer aktief bly. Vandag nog sukkel ek met stilsit.”

Sy verjaarsdag het op ‘n hoë noot afgesluit toe hy saam met sy kinders en kleinkinders om die tafel kon aansit vir ‘n heerlike maaltyd, met die gebrul van motorfietse in die agtergrond.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button