1ste sokkie by Baila ‘n groot lekker opskop
Baila fiksheidsdansateljee hou sy eerste Sokkie Aand in Polokwane – ’n veilige, prettige dansgeleentheid wat nou maandeliks plaasvind.
POLOKWANE – Wally Strauss, die stigter van Baila fiksheidsdansateljee het Vrydagaand die ateljee se heel eerste Sokkie Aand by Diemeerstraat 115 aangebied, met talle inwoners wat in die pret kom deel het.
“Met hierdie gesonde kultuurgeleentheid wil ons ‘n veilige omgewing skep waar mense kan dans en iets kan eet en drink sonder om oor hulle veiligheid en gesondheid bekommerd te wees.
Ná verskeie fiksheidsgeleenthede wat ons reeds aangebied het, het baie mense in die stad my gevra vir ‘n plek waar hulle kan sokkie, en toe besluit ek om dit by ons ateljee in te bring. Só kan hulle in ‘n veilige en gemaklike ruimte dans,” het Strauss gesê.
Hy het jonk en oud aangemoedig om deel te neem, aangesien daar beplan word om die Sokkie Aand ’n maandelikse instelling te maak wat pret, leer en fiksheid kombineer.
“As daar enigiemand is, selfs paartjies, wat iets nuuts of anders wil probeer, of net vir ‘n rukkie op ‘n Vrydagaand uit die huis wil kom, is hulle meer as welkom om by ons aan te sluit,” het hy bygevoeg.
Hy het almal bedank wat gehelp het om die eerste Sokkie Aand ‘n groot sukses te maak. “Kom ontdek jou passie vir dans en raak fiks terwyl jy pret het.”
Vir meer inligting of om aan te sluit, kontak 072 793 8292, besoek hulle by Diemeerstraat 115 of volg Baila op Facebook.




