Laerskool Krugerpark vier kankeroorlewende Luhané
Laerskool Krugerpark vier Internasionale Kinderkankerdag en 11-jarige Luhané Furstenburg se tweede oorwinning oor kanker saam met leerders en onderwysers.
MOKOPANE – Die Laerskool Krugerpark gemeenskap het verlede Donderdag saamgestaan ter ondersteuning van internasionale kinderkankerdag se herdenking.
Onderwysers het goud en geel gedra, wat die kleure van kinderkankerbewustheid is, saam met plakkies en pienk plakkers om hul ondersteuning te wys aan die dapper kinders wat hierdie stryd voer.
“God herinner ons daaraan dat elke kind kosbaar en waardevol is en dat elke lewe beskerm en gekoester moet word,” vertel Annatjie de Kock, skoolhoof.

Die leerders het ook trots deelgeneem deur hul plakkies en pienk plakkers te dra.
“Dit was hartroerend om te sien hoe die hele skool saamstaan vir ‘n betekenisvolle saak.”
Die dag het nie net oor bewustheid gegaan nie, maar ook oor omgee en begrip.
“Ons is ongelooflik trots op Luhané Furstenburg, wat kanker oorwin het.
“Om haar energie terug by die skool te sien en haar weer vol selfvertroue in die klas te hê, is werklik ‘n seën.
“Haar krag en deursettingsvermoë inspireer ons almal. By Krugerpark vier ons hoop, en ons vier vir Luhané,” voeg De Kock by.
Luhané is op die ouderdom van twee-en-‘n-half met kanker gediagnoseer en was toe vir sewe jaar in remissie.
Dié 11-jarige kankeroorlewende het verlede Augustus weereens slegte nuus ontvang – die kanker het teruggekeer, maar met chemobehandeling is sy nou weer in remissie.
Sy vertel dat, op die dag toe sy uitgevind het sy het kanker vir die tweede keer oorwin, dit vir haar lekker gevoel het, “ek was baie gelukkig”.
Sy en haar gesin het die dag gevier met lekkernye en ‘n heerlike uiteet, en die dag verder saam met haar niggies gevier.
Sy vertel dat die grootste uitdaging van die kankerstryd was toe sy chemoterapie moes kry.
“Hulle moes die naald in my bors ingedruk het, en dit was baie seer gewees, en hulle moes orals ‘sanitiser’ gesmeer het om seker te maak dit bly skoon.”
Sy vertel wat haar aan die gang gehou het: “Dit was om terug skool toe te kom, en ek wou nie my ouers en boetie gelos het nie, ek wou baie graag my maatjies gesien het.”
Haar boodskap aan ander jongmense: “Moet nooit opgee nie, en hou aan veg vir wat julle wil doen in die lewe.”




