MasterChef-styl Melktertdag by Piet Potgieter Ouetehuis
Piet Potgieter Monument Ouetehuis-inwoners bak, lag en geniet Nasionale Melktertdag vol kreatiwiteit en samesyn.

MOKOPANE – Landswyd het inwoners op 27 Februarie Nasionale Melktertdag gevier, en dit was geen uitsondering by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis nie, waar dié dag op ‘n unieke wyse aangepak is.
“Daar is vyf spanne, elk met ‘n komiteelid van die ouetehuis as spanleier, wat dan ‘n maat gekies het om saam mee te werk,” sê Mariana van Tonder, bestuurder van die tehuis.
Die gees het hoog geloop toe inwoners toekyk hoe die bobaasbakkers om die voorraadtafel saamtrek om daardie ietsie ekstra vir hul melkterte bymekaar te maak voordat die MasterChef-styl kompetisie afgeskop het.

Henk van Wyk en Poppie Benadie het gesê hul verwagting vir die kompetisie is eenvoudig om die dag te geniet.
“Ons gaan nie vir ‘n wen nie, ons gaan vir die lekker daarvan,” het hulle saamgestem.
Al die spanne het dieselfde resep ontvang, maar kon hul melkterte met verskillende versierings afrond.
Ná ‘n spanningsvolle beoordelingsproses het Petro Jansen van Rensburg en Eric van Rensburg as wenners uit die stryd getree en die prys, geborg deur Rainbow Slaghuis, ingepalm.

In die tweede plek was Steve le Roux en Elize Fourie kort op hul hakke.
Dié soet Vrydag vol lag en samesyn sal die inwoners nie gou vergeet nie.




