Z’s Dance Studio hou kleurvolle geldinsameling in Mokopane
Sowat 120 deelnemers neem deel aan ’n kleurvolle Colour Run om Z’s Dance Studio-dansers se droomreis na Amerika te ondersteun.
MOKOPANE – Met hope energie, lag en ‘n kaleidoskoop van kleure het Z’s Dance Studio in samewerking met organiseerder, Lizanie van Staden se ‘Colour run lap-a-ton’ plaaslike inwoners bymekaar gebring verlede Vrydagaand.
Kleurvolle geldinsameling bring gemeenskap saam
Sowat 120 deelnemers het aan die ‘Colour Run’ deelgeneem.

Deelnemers van alle ouderdomme het die atletiekbaan van Laerskool Krugerpark 12 keer aangepak wat deel vorm van ‘n 5km roete, en daar was om elke draai helder poeier in die lug gegooi.

Met vrolike musiek en baie geesdrif, het dié geleentheid ‘n gewone hardloopsessie in ‘n onvergeetlike ervaring gevul met kleur en glimlagte omskep.
Dansers se droom om Amerika te bereik
Die ‘Colour Run’ vorm deel van ‘n geldinsamelingsprojek vir sewe dansers van Z’s Dance Studio wat gekwalifiseer het om Suid-Afrika, eine Julie, te gaan verteenwoordig in Amerika, Florida, Miami aan die American Dance Awards nasionale kampioenskappe.
Die sewe danser wat die geleentheid gekry het om in Amerika te gaan dans is Isabel Bruwer, Niekie Smuts, Erin Lemmer, Megan Louw, Ivanke Theunissen, Mpho Makhutja en Grace Sematla.
Z’s Dance Studio en organiseerder, Lizanie van Staden bedank almal wat die ‘Colour Run’-aand saam met hulle geniet het, en ‘n bydrae tot die dansers se geldinsamelingsprojek gemaak het. Hulle bedank ook die hoofborg, Valterra, Midas Mokopane en Quatro-pack vir die bydrae wat hulle gelewer het om die aand moontlik te maak.
As dit op jou hart is om ‘n bydrae te maak om die dansers se droom te ondersteun kan afrigter Zané de Wet gekontak word by 084 450 5338.




