Local News

4×4-naweek in Wolkberg eindig in reddingspoging

Jandré Oosthuizen en sy seun, Jadin, geniet elke keer hulle jaarlikse 4x4-naweek na die Wolkberg-natuurreservaat, maar dié jaar het dinge anders uitgedraai.

POLOKWANE – Wat eintlik ‘n naweek van avontuur moes wees, het byna in ‘n nagmerrie ontaard vir die Oosthuizen-gesin.

Jandré Oosthuizen en sy seun, Jadin, onderneem al vir jare ‘n jaarlikse 4×4-naweek na die Wolkberg Natuurreservaat, waar hulle hul vaardighede op die proef stel.

Gedurende die naweek van 20 tot 22 Maart het die pa-en-seun-duo weer die berge ingevaar.

Net voor hul vertrek het Jandré vir sy vrou, Simoné, gesê hulle behoort teen 13:00 Sondagmiddag tuis te wees. Hy het haar egter ook gewaarsku dat indien hulle nie betyds terugkeer nie, sy reëlings moet tref om na hulle te soek, aangesien hulle moontlik kon vasval of meganiese probleme ervaar.

Teen Sondagmiddag het hul voertuig in ‘n modderige gedeelte vasgesit nadat stygende riviervlakke die voorwiele laat insak het.

Intussen het swaar reënval, oorstroomde riviere, toegegroeide roetes en geen selfoonsein die situasie verder bemoeilik.

Toe die twee nie soos beplan terugkeer nie, het Simoné bekommerd geraak en hulp ontbied. Sy het goeie vriende Carl Lechner, Rouan Snyman en Matt Ellis, gevra om te help met die soektog. Die drie het omstreeks 15:30 na Wolkberg vertrek.

Met hul aankoms het hulle bevestig dat Jandré en Jadin wel in die reservaat was, maar nog nie uitgekom het nie.

Die voertuig het in die ingestorte rivieroewer vasgesit.

Die soekspan het die voertuig se spore gevolg tot by ‘n oorstroomde rivier, maar moes terugdraai weens ‘n gebrek aan kos, water en kamptoerusting.

Hulle het na Haenertsburg teruggekeer om voorrade te kry, en teen 23:00 Sondagaand is hulle weer die reservaat binne, en het die soektog vroeg Maandagoggend hervat.

Weens die hoë watervlakke moes die span riviere te voet oorsteek om seker te maak dat dit veilig is vir voertuie.

Terwyl hulle ‘n kleiner roete ondersoek het, het hulle ‘n geroep gehoor – dit was Jandré aan die oorkant van ‘n rivierwal. Die pa en seun is ongedeerd gevind, tot groot verligting van almal betrokke.

Volgens Jandré het hul pogings om die voertuig los te kry dit net dieper in die modder laat insak, terwyl aanhoudende reën dit moeilik gemaak het om selfs ‘n vuur aan die gang te kry.

Danksy hul buitelugervaring het hulle egter oorleef met die kos, water en medikasie wat hulle by hulle gehad het. Hulle het ‘n roetine gehandhaaf, vuur gemaak waar moontlik, in die rivier gebad en hul kamp skoon gehou, al het insekte en die nat vlei-omgewing dit uitdagend gemaak.

Die omhelsing tussen Jadin Oosthuizen en sy pa, Jandré.

“Ek moes kalm bly en vir Jadin gerusstel dat hulp op pad is. Dit was sy eerste keer in so ‘n situasie, ver van enige hulp en sonder selfoonopvangs,” het Jandré gesê.

Simoné het vertel dat sy Sondagoggend ‘n onverklaarbare gevoel ervaar het, en later uitgevind het dat haar man en seun op dieselfde tyd gebid het dat sy ‘n teken moet kry dat hulle veilig is.

Die reddingsoperasie het sowat sewe ure geduur voordat almal veilig na die Wolkberg-kampeerterrein kon terugkeer, aangesien die paaie nat, modderig en moeilik begaanbaar was.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button