101 Jaar jong: Tannie Rita deel raad vir jong geslagte
Op 101 kyk Tannie Rita Olwage terug op liefde, familie en ’n eeu se ervaring, en gee raad oor die lewe en verhoudings.
POLOKWANE – Op 30 Maart 1925 het Rita Olwage haar eerste tree in die wêreld gegee – ‘n wêreld vol vreugde, hartseer, uitdagings en kosbare lewenslesse wat sy vandag, op 101, met jonger geslagte kan deel.

Grootword in Fort Victoria
Tannie Rita is in Fort Victoria in die destydse Suid-Rhodesië gebore en het grootliks haar kinderjare in ‘n koshuis deurgebring.
Sy het slegs vakansies huis toe gegaan en ná skool begin werk om haarself te onderhou.
“Een van my mooiste herinneringe is die liefde wat ek van my pa ontvang het.
“Die moeilikste tyd was toe ek saam met my skoonouers in een huis gewoon het,” vertel sy.
Oor haar lang lewe het sy groot wêreldgebeure beleef, insluitend die twee Wêreldoorloë, wat ook haar familie geraak het.
“Ons was almal baie bekommerd oor die veiligheid van ons geliefdes,” onthou sy.
66 Jaar gelukkige huwelik
Sy en haar man, Hennie, was saam op hoërskool en is in Augustus 1952 getroud.
“Ons was 66 jaar gelukkig getroud totdat hy op 93 oorlede is,” sê sy.
Familie bly ‘n groot prioriteit
Hulle het drie seuns gehad, waarvan die jongste twee ‘n tweeling is, asook nege kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Familie bly vir haar ‘n groot prioriteit. “Ons kuier so gereeld as moontlik saam.”
Op haar ouderdom kyk sy met dankbaarheid terug, veral vir die ondersteuning van haar kinders wat haar versorg.
Wysheid en raad vir jong geslagte
Tannie Rita deel ook raad vir jong mense, veral wanneer dit by verhoudings kom.
“Bly in julle eie huis en bou julle eie lewe.
Om eerlik en reg te leef, is die beste resep vir ‘n lang en gelukkige lewe,” sê sy.
Met ‘n eeu se wysheid agter haar naam, bly haar verhaal ‘n inspirasie van volharding, liefde en familie.




