Gestorwe PHS-leerder se lewe vandag herdenk
Die 14-jarige Diana van Jaarsveld, ‘n leerder aan Hoërskool Pietersburg, is Donderdag oorlede.
POLOKWANE – Die familie van Diana van Jaarsveld (14), ‘n leerder aan Hoërskool Pietersburg, wat Donderdag na ‘n kort siekbed oorlede is, het hulle dank uitgespreek teenoor almal wat hulle in hierdie moeilike tyd ondersteun het.
Diana is verlede Vrydag in ‘n privaat hospitaal in die stad opgeneem nadat sy siek geword het.
Daar is eers vermoed sy het bosluiskoors, maar toetse vir bosluiskoors, malaria en meningitis het almal negatief getoets.
Haar toestand het egter vinnig versleg en sy is in die hoësorgeenheid opgeneem.
Hier het sy binne 20 minute ineengestort en is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas, waar sy aan ‘n ventilator gekoppel is weens swelling op die brein.
Sy het egter Donderdag die stryd verloor.
PHS het hul medelye op sosiale media uitgespreek: “As Pieties staan ons saam; Ons dra mekaar se pyn. Ons ondersteun mekaar. Ons hou vas aan die wete dat Diana se lewe betekenisvol was en dat haar nalatenskap altyd in ons skoolgemeenskap sal voortleef. Ons dra haar familie en vriende aan die Here op in gebed en bid vir die nodige vertroosting en ondersteuning”.
Familie spreek dank uit
Die familie spreek hulle dank uit teenoor elkeen wat hulle ondersteun het met boodskappe, gebede en bystand.
Diegene wat finansieel bygedra het vir haar versorging, is ook bedank. Daar is geen verdere betalings nodig nie.
Die familie het ook verskeie geestelike leiers bedank vir hul gebede en ondersteuning deur die week.
Diana se roudiens word vandag (Saterdag) om 10:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Noord gehou.




