Skool en gholf: Mea Swart vind die balans
Polokwane se Mea Swart balanseer matriek en gholf en behaal nóg ’n oorwinning. Haar dissipline en fokus lei tot sukses op en van die baan.
POLOKWANE – Gary Player, een van Suid-Afrika se bekendste gholfspelers, het jare gelede gesê hoe meer hy oefen, hoe beter speel hy. Ernie Els het weer beklemtoon dat ‘n speler moet weet wanneer om die balle neer te sit en doelgerig te oefen.
Polokwane se eie gholfster, Mea Swart, ‘n gr. 12-leerder aan Hoërskool Pietersburg, leef dié beginsels daagliks uit, al is dit nie altyd maklik nie.
Sy erken dat die druk van eksamen en kompetisies soms oorweldigend kan wees.
“Ek probeer my bes om aandag aan albei te gee en gemotiveerd te bly, veral as ek nie uitsien na ‘n taak nie.
“Ek maak seker alles wat gedoen moet word, word gedoen,” sê sy.
Nomads en klubkampioenskappe
Mea het onlangs aan die Nomads SA Girls Championship in Mpumalanga deelgeneem en 17de geëindig.
Kort daarna het sy weer haar staal gewys deur, vir die tweede keer, die vroue-afdeling van die Polokwane Gholfklubkampioenskappe te wen.

Voorbereiding onder druk
Voorbereiding was egter allesbehalwe maklik. In die week voor die kampioenskappe moes sy verskeie toetse aflê.
“Ek het smiddae, wanneer ek klaar gestudeer het, sommer by die huis ‘n paar houe geslaan.
“In die laaste week het ek baie nege-gaatjies gespeel en gefokus op dié dele van my spel wat aandag nodig gehad het,” vertel sy.
Die beperkte oefentyd en uitputtende toetsweek het wel ‘n tol geëis, vertel sy.
“Die toetse was oorweldigend en ek was ongelooflik moeg.
“Die druk van skool en gholf saam was uitputtend, maar die harde werk was die moeite werd.”
Balans en opoffering
Om alles te balanseer, spandeer Mea min tyd op haar selfoon en gaan vroeg slaap.
Sy loop ook dikwels sosiale geleenthede saam met vriende mis.
“Dit is nie altyd lekker nie, maar ‘n mens besef later hoe nodig daardie ekstra tyd is.
“Ek probeer in elke klas op datum bly en seker maak ek verstaan die werk – dit maak leer makliker.”
Sleutel tot oorwinning
Volgens haar het sterk sethoue op die laaste dag van die klubkampioenskappe haar na die oorwinning gelei.
“Toe ek die bal op die eerste drie putjies sink, het dit my selfvertroue gegee. Dit is moeilike putjies.”
Lesse en motivering
Die oorwinning het haar geleer om in haarself te glo en positief te bly, selfs wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.
“Dissipline is vir my baie belangrik. Die balans tussen skool en sport leer my goeie tydsbestuur en deursettingsvermoë.
“Vind wat vir jou werk, maar moenie jou skoolwerk afskeep nie – dit bly belangrik.”




