Local News

Thorntree-leerder wys talent op kykNET se Ideemakers

Thorntree Academy-leerder André Weideman wys sy wetenskapstalent op kykNET se Ideemakers deur deelname aan die Tritech-kompetisie.

MOKOPANE – ‘n Plaaslike leerder van Thorntree Academy, André Weideman het onlangs die geleentheid gehad om sy wetenskaplike talent op die kassie te wys waar hy aan ‘n Tritech-wetenskapkompetisie deelgeneem het.

‘Ideemakers’ is ‘n splinternuwe agt-episode realiteitsreeks op kykNET, waar Tritech-deelnemers se praktiese navorsing ten toon gestel word.

Nasionale platform vir jong navorsers

Tritech is ‘n nasionale wetenskap- en tegnologiekompetisie waar jong navorsers aangemoedig word om innovering en probleemoplossing te kombineer met praktiese navorsing.

Leerders van regoor Suid-Afrika ontwikkel projekte wat nie net akademies sterk is nie, maar ook ‘n werklike impak op gemeenskappe het.

Die kompetisie dek ‘n wye spektrum vakgebiede – van gesondheidswetenskappe en biochemie tot ingenieurswese, landbou en omgewingswetenskappe.

By die Nasionale Tritech byeenkoms, word daar ook bykomende pret aktiwiteite wat met wetenskap te doen het, vir die leerders gereël.

Passie vir wetenskap van jongs af

André se belangstelling in wetenskap kom reeds van jongs af waar sy ma en sussie oor eksperimente gepraat het wat hulle by die skool gedoen het.

“Die mense wat my die meeste inspireer in die wetenskap veld is my ma, Christa asook Mark Rober wat ‘n innoverende ingenieur op die internet is.”

Projek fokus op vitamien C in lemoene

André se projek het oor lemoene gegaan, “Ek het getoets of lemoene die vitamien C behou oor ‘n lang periode soos wat die lemoene ouer word. Dit word gedoen deur die askorbiensuur in die lemoensap te titreer met ‘n jodiumoplossing en ‘n styselaanwyser.”

Hy vertel dat hy ‘n vorige projek gedoen het oor hoeveel elektroliete energiedrankies bevat, aangesien vitamien C gereeld op die etiket as bestanddeel gelys word.

“Toe wonder ek of lemoene se vitamien C met tyd verminder, soos dit ouer word.

“Ek het vir ses maande aan my projek gewerk omdat ek lemoene oor ‘n tydperk van vier weke getoets het en ek die eksperiment baie kere moes herhaal om my resultate te bevestig.”

André Weideman by sy projek met die Tritech nasionale wetenskap ekspo.

Waardevolle ervaring en nuwe vriendskappe

Vir André is die kompetisie baie interessant ook omdat hy ander leerders se projekte kan sien en hulle inligtig onder mekaar uitruil.

“Dit is ‘n goeie plek waar ‘n mens altyd vriende maak.”

Die hoogtepunt van die Tritech geleentheid was die pretaktiwiteite, vertel hy.

“Die organiseerders het baie moeite doen met die kompetisie en alles het ‘n wetenskaplike tema.”

Belangrike lesse en raad

Die belangrikste les wat André geleer het by die kompetisie is dat take dalk moeilik lyk, maar sodra jy wegspring raak dit makliker.

As André nie besig is met wetenskapekspirimente nie, dan spandeer hy sy vryetyd deur te lees en om met sy honde te speel.

Sy raad aan ander leerders wat ook aan ‘n Tritech- kompetisie wil deelneem is: “Kies ‘n projek wat jy op die gemeenskap kan toepas en kies ‘n projek wat jy wil doen. As jy tot by die Tritech Nationals vorder, geniet die naweek en moenie dat ander se projekte jou onderkry nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button