Jakaranda en Parke sorg vir ringbal aksie in Polokwane
Jakaranda en Parke bots in spanningsvolle ringbalwedstryde, met groot oorwinnings vir die vrouespanne en ’n taai manswedstryd.
POLOKWANE – Jakaranda Ringbalklub was tydens Saterdag se ligawedstryde ‘n miernes van bedrywigheid.
Toe die swaar reënbui opklaar, het spelers en ondersteuners dadelik met besems ingespring om die water van die bane af te vee.
Sommige het handdoeke gebruik om die laaste water op te droog, om te verseker dat dié dag kan voortgaan. Reën het verlede maand veroorsaak dat Jakaranda die liga moes uitstel.
Vertraagde maar vasberade spel
Spel is wel vertraag, en spelers moes gereedmaak om tot laataand onder die spreiligte hulle mededingers aan te durf.

Spanne reis van regoor Limpopo
Jakaranda-voorsitter, Juan van Staden sê klublede het van so ver as Phalaborwa, Tzaneen, Kranskop en Lephalale gekom om aan die liga deel te neem.

Daar is nog twee ligawedstryde oor wat onderskeiedelik in Tzaneen en Mokopane gespeel sal word.
Die hoogtepunt van die dag was die mans- en vrouespanne van die twee plaaslike ringbalklubs, Jakaranda en Parke, se wedstryde wat vir groot opwinding gesorg het.

Toeskouers het hulleself gemaklik om die baan gemaak om nie die aksie tussen dié twee klubs mis te loop nie.
Uitslae van die wedstryde
Tydens die wedstryd tussen die vroue A2-spanne laat Jakarande vir Parke 62-12 les opsê terwyl die A1-span met ‘n telling van 42-28 seëvier.
Jakaranda se mansspan was nie so gelukkig nie, maar na ‘n harde wedstryd moes hulle 48-58 die knie teen Parke buig.




