Local News

Polokwane gemeenskap onthou Soetdorings se Peet

Sy lewe is gekenmerk deur vasberadenheid, harde werk en ’n diep verbintenis met die mense na aan hom.

POLOKWANE – Die naam Peet Kruger (65) is vir talle jarelange inwoners van die stad bekend.

Oor die jare heen is hy verbind met Soetdorings Lodge en Buiteklub, motorfietsbyeenkomste en talle gesellige kuieraande.

Kruger is op 11 Junie aan ‘n hartaanval oorlede. Sy kinders onthou hom as ‘n sterk, beginselvaste man wat altyd sy familie eerste gestel het.

’n Sterk pa en beginselvaste man

Sy seun, Niekie Kruger, getuig hiervan.

“My pa was ‘n yster en het ons hard grootgemaak en voorberei vir die lewe. Hy was altyd daar wanneer ons hom nodig gehad het. Hy het my aan ‘n ou buffelbul, ‘n ‘daggaboy’, herinner. Hy het die trop gelei, beheer geneem en geweet waar die gras groen is. Hy het op sy eie geloop en mure om hom gebou, maar vir sy kinders was hy altyd daar.”

Volgens Niekie was sy pa ‘n man van sy woord.

“Hy het vasgestaan in sy waardes. Sy woord was sy eer, en as hy gesê het hy gaan iets doen, het hy dit gedoen. Hy het sy ‘battles’ met wysheid gekies en nie elke uitdaging gestormloop nie. Sy familie het altyd eerste gekom. Hy het ons geleer dat moeilike tye nie vir altyd aanhou nie en dat ons dinge beter moet agterlaat as wat ons dit gekry het. Hy het ons ook geleer om ons letsels met trots te dra.”

Geloof, herinneringe en vrede

Kruger se jongste dogter, Simone Crouse, sê elkeen van die kinders het ‘n unieke verhouding met hul pa gehad.

“Hy moes geweet het dat ek meer besorg was oor sy siel as oor die aardse dinge in die lewe. Hy het ‘Amazing Grace’ aan my opgedra, en ek weet hy is nou vry. Waar hy nou is, is daar nie meer seer nie. Toe ek van sy afsterwe hoor, het ek vir vrede gebid. My hart was swaar, maar my pa was heel, nuut en volmaak, vir ewig by Jesus. Ons weet hy het die afgelope jaar ‘n besonderse pad saam met Jesus gestap.”

Sy voeg by dat haar kinders steeds eienskappe van hul oupa weerspieël.

“Hulle dra sy aansteeklike lag, sy doelgerigtheid en sy nederige, liefdevolle houding saam.”

Lewe vol stories en nalatenskap

Kruger se oudste kind, Thelma Geijsendorpher, sê haar pa se groot, passievolle en kleurvolle lewe sal altyd onthou word.

“Daar bestaan soveel weergawes van jou as wat daar mense is wat jou ken. My pa het baie weergawes. Ek onthou hoe ons as kinders saam gespeel het, mekaar gejaag het, seevakansies geniet het, moerbeie geëet het en hoe ek op sy skouers kon sit. Ek het dikwels in die nag by hom gaan inkruip en my koue lyf teen sy warm maag gedruk. By hom het ek veilig gevoel.”

Sy vertel dat haar pa verskeie ondernemings bedryf het en sy kinders baie geleenthede gebied het.

“My pa het my toegelaat om te wees wie ek is, al was ek anders as hy. Hy was lief vir die bos en die natuur en het vir baie honde ‘n tuiste gegee. Mense het gesê hy was hardkoppig, maar ons was lief vir hom. Hy het nooit opgehou om sy drome na te jaag nie.”

Kruger word oorleef deur sy vyf kinders en vier kleinkinders.

Familie en vriende het op 27 Junie van hom afskeid geneem. Sy as is volgens sy wens deur sy familie in die see by Houtbaai gestrooi.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button