Local News

5 dragtige koeie doodgekap naby Polokwane

'n Bonsmarateler van Ga-Mashashane het onlangs ook 10 dragtige koeie verloor, waarvan die polisie vyf kon terugkry en verdagtes in hegtenis geneem het.

POLOKWANE – Boere rondom die stad word toenemend deur veediewe geteister, en in ‘n onlangse voorval is vyf dragtige Bonsmarakoeie op ‘n plaas op die Kuschke-Zebedielapad (R519) doodgekap en die koppe, velle en ingewande agtergelaat.

R1m-verlies vir teelprogram

Volgens die eienaar, wat anoniem wil bly, is die huidige geskatte waarde van die direkte finansiële verlies ongeveer R150 000.

“Die toekomstige teelwaarde van hierdie diere en hul ongebore kalwers word op sowat R1m geraam. Hierdie verlies is dus nie net finansieel nie, maar ook ‘n groot terugslag vir ons teelprogram,” voeg sy by.

Voertuigspore lei na karkasse

Volgens die eienaar is daar verlede Sondag tydens ‘n roetine-inspeksie ontdek dat ‘n gedeelte van die plaas se wildsheining beskadig en met verdere ondersoek is voertuigspore gevolg en op die karkasse van die beeste afgekom.

“Die afgelope paar maande het ons byna elke maand ‘n bees spoorloos verloor en ons vermoed dat hierdie diere lewend van die plaas verwyder is,” vertel sy.

“Tydens hierdie voorval het die verdagtes die wildsheining oopgeknip en met ‘n voertuig tot by die beeskraal gery. Daar het hulle ons drukgang gebruik om die beeste vas te keer en hul enkels af te kap. Daarna is die beeste die veld ingejaag, waar hulle geslag is.”

Boere onder groeiende druk

Volgens die slagoffer is hierdie nie ‘n alleenstaande voorval nie.

“Die afgelope paar maande leef boere in ons omgewing onder geweldige druk weens veediefstal, wildstropery en ander vorme van misdaad. Strikke word gereeld op plase gestel waarin beeste en wild gevang word, en ons vind dikwels karkasse van wild in die veld. Ons vermoed ook dat diere lewend gesteel en later geslag word,” sê sy en voeg by dat onwettige mynbedrywighede deur zama-zamas besig is om die situasie verder te vererger.

“Hulle is op verskeie plase in ons omgewing aktief en het reeds die rivier op ons plaas oopgegrawe.

“Hierdie sake is al verskeie kere by die polisie aangemeld, en selfs spesialiseenhede was al in die gebied, maar daar is steeds min sigbare verandering,” meen die boer en is daarvan oortuig dat mediablootstelling kan help om bewustheid te skep en moontlik daartoe kan lei dat iemand met waardevolle inligting na vore kom.

Nog ‘n teler geraak

‘n Plaaslike Bonsmarateler van Ga-Mashashane, Pieter Wentzel het ook onlangs skade gely toe 10 dragtige koeie van sy plaas gesteel is.

“Gelukkig het die polisie daarin geslaag om vyf van die beeste terug te kry en van die boosdoeners aan te keer,” vertel Wentzel en voeg by dat dit nie net kommersiële boere is wat geteiken word nie.

“Van my bure wat bestaansboere is, is ook slagoffers en het al aangedui dat hulle oorweeg om die reg in eie hande te neem,” het Wentzel gesê.

Die polisie het bevestig dat ‘n dossier geopen is en onderneem om verdere inligting te verskaf sodra die situasie dit toelaat.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Barry Viljoen

Barry Viljoen is 'n vryskutjoernalis vir Polokwane Review en Observer.

Related Articles

Back to top button