Local News

Polokwane-kalf Mooki veilig by familie terug

Die Cremona-gesin het op sosiale media 'n beroep op die Polokwane gemeenskap gedoen nadat 'n vreemdeling met Mooki weggery het.

POLOKWANE – Op 4 Desember 2025 is ‘n besonderse bulkalf met ‘n keisersnee in die wêreld gebring. Sy ma was te swak om na hom om te sien en Dario en Arona Cremona het hom tydelik in pleegsorg geneem. Sy naam is spesiaal vir hom gekies: ‘Mooki’, afgelei van die Italiaanse woord ‘Mucca’, wat bees beteken.

Mooki as ‘n jong kalf.

Arona vertel Mooki se ma is ‘n paar dae later dood en dat hy toe ‘n permanente deel van die familie geword het.

‘n Nuuskierige kalf op avontuur

Groot was die gesin se ontnugtering toe hulle op 20 Junie by die huis aankom en sien hul geliefde bulkalf is weg.

“Ons hoofhek het gebreek en kon nie heeltemal toemaak nie. Mooki moes op een of ander manier uit sy kamp gekom het en deur die hoofhek gegaan het.”

Arona sê hulle het op sekuriteitskameras by Aloes Leefstyl-landgoed gesien Mooki het sy pad daarheen gevind, waar hy die sekuriteitspersoneel behoorlik besig gehou het.

“Hy glo nie hy is ‘n bees nie, maar eerder ‘n mens. Daarom het hy net geselskap gaan soek. Hulle het hom kort-kort van die hek af weggejaag, en toe hy moeg gespeel was, het hy op ‘n stukkie gras naby die hoofhek gaan lê en slaap.”

‘n Vreemdeling kom haal Mooki

Volgens die videomateriaal het ‘n man met ‘n maroen bakkie omstreeks 19:10 daar stilgehou en vir die sekuriteitspersoneel gesê dit is sy kalf.

“Hulle was so verlig dat die ‘eienaar’ opgedaag het, dat hulle hom selfs gehelp het om Mooki op die bakkie te laai. En daar ry die oom weg met ons Mooki.”

Die gemeenskap span saam

Intussen het Arona haar tot sosiale media gewend en die gemeenskap se hulp ingeroep. Mense het die boodskap wyd versprei en dit het uiteindelik die regte persoon bereik.

“Die man na wie die eienaar van die bakkie vir Mooki geneem het, het die plasing van die vermiste kalf gesien en dadelik twee en twee bymekaar gesit.

“Hy het my gekontak en ek moes beskryf hoe Mooki lyk. Hy het toe vir my ‘n foto gestuur, en ja, dit was beslis Mooki. Ons was so verlig en het hom onmiddellik gaan haal.”

Nog vrae sonder antwoorde

Hoewel die Cremona-gesin meen dit was diefstal, kon hulle nog nie ‘n saak by die polisiestasie aanhangig maak nie.

“Al wat ons van die persoon weet wat vir Mooki opgelaai het, is die soort voertuig waarmee hy ry. Die kameras het net sy rug afgeneem en in die aand weerkaats die ligte teen die voertuig se nommerplaat, daarom kon ons dit nie sien nie.

“Tegnies is dit seker nie regtig diefstal nie, aangesien die kalf buite die erf rondgeloop het, maar hy het wel iets gevat wat nie aan hom behoort nie. Vir ons beteken dit steel.”

Verskeie sosiale mediagebruikers het gevra of Mooki gebrandmerk is, maar Arona sê dit is gebruiklik dat kalwers eers gemerk word wanneer hulle van hul ma gespeen word.

“Dit sou dus heelwat later eers gebeur het, maar ná al die konsternasie is Mooki nou ‘n mikroskyfie ryker.”

Mooki weer veilig by die huis

Intussen is die hek herstel en die kamp waarin Mooki loop, versterk om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.

“Ons wil net dankie sê vir al die mense van Polokwane vir hulle omgee en hulp, en ook vir almal wat die boodskap versprei het. Dit het gemaak dat die regte mense die plasing gesien het en die regte ding gedoen het.

Mooki, weer tuis by die Cremona-gesin.

“Daar is slegte mense daar buite wat lelike goed doen, maar daar is beslis nog goeie mense wat wil help en die regte ding doen.” Arona sê die voorval het haar ‘n belangrike les geleer.

“As jy iets snaaks en uit plek sien, soos ‘n kalf voor ‘n leefstyllandgoed se hek, sê iets of laat weet iemand daarvan.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button