PLS-leerder wen prosa-afdeling by A-Arts Artisticulta
Ná maande se oefening en dramaklasse het die jong akteur homself as een van Limpopo se belowendste jong talente gevestig.
POLOKWANE – Op net 11-jarige ouderdom is Nell Venter beslis nie op sy bek geval nie.
Die gr. 6-leerder van Pietersburg Laerskool het onlangs aan die eerste A-Arts Artisticulta-kompetisie in die stad deelgeneem en sy skool trots gemaak.
‘n Skoon oes van A’s
Nell het twee prosastukke, ‘n gedig en ’n oorspronklike monoloog voorgedra. Hy het ‘n A en A+ vir prosa, ‘n A vir sy monoloog en ‘n A+ vir poësie behaal. “Ek was ook die algehele wenner in die prosa-afdeling,” vertel hy.
Volgens Nell is daar nie genoeg dramakompetisies in Limpopo nie. “As ek die geleentheid kry om aan een deel te neem, gryp ek dit aan, want ek is mal oor drama.”
Op pad na die nasionale verhoog
Hoewel hy nog nie aan skoolkompetisies soos Radikale Redenaars of Podium Pret deelgeneem het nie, het hy reeds vir die South African Championships of the Performing Arts (Sacopa) ingeskryf en die Limpopo-span gehaal.
In Oktober neem hy aan die nasionale kampioenskap in Rustenburg deel.
Maande se harde werk agter die skerms
Nell sê sy sukses het nie oornag gekom nie.
“Ek het nie een oggend wakker geword en besluit om deel te neem nie. Ek het maande lank geoefen.”
Hy het dramaklasse by Tamarin Engelbrecht van Matter of Act Drama Academy ontvang.
“Ek was nogal op my senuwees die dag van die kompetisie. Daar was meer as 100 mense in die gehoor. Selfs op die verhoog was ek senuweeagtig, want al was my vriende daar, was hulle ook my kompetisie. Dit was steeds baie lekker. Ek het dit die meeste geniet om net deel te neem en my liefde vir drama uit te leef.”
Hy sê die kompetisie het hom geleer om harder te projekteer en dat harde werk drome kan laat waar word. Sy raad aan ander kinders is om hul drome na te jaag en hard daarvoor te werk.
Hy bedank Tamarin en sy ouers vir hul ondersteuning.
Groot drome vir die toekoms
Nell beplan reeds om volgende jaar weer aan die kompetisie deel te neem.
“Ek gaan probeer om weer die Best Prose Performance Overall-wisseltrofee te wen. Omdat ek so goed gevaar het, het ek ook deurgedring na die Rising to Fame Competition in 2027.”
Hy hoop om ná laerskool sy hoërskoolloopbaan by Merensky Landbou Akademie voort te sit en droom daarvan om eendag ’n akteur in ‘Beter as Gister’ te wees.
“Kompetisies soos A-Arts bring kreatiewe mense bymekaar. Sport is nie alles nie; daar is plek vir almal,” het hy afgesluit.




