Local News

Mokopane maak gereed vir 26ste Kierieklapper-fees

Die Kierieklapper Musiekfees in Mokopane bied drie dae se musiek, kos en pret, met kunstenaars soos Die Piesangskille, Chris Steyn en Hannes van Wyk (Kwêla).

MOKOPANE – Die gewilde Kierieklapper Musiekfees vier vanjaar sy 26ste bestaansjaar en beloof van 6-8 Augustus weer drie dae van topvermaak, gesinsaktiwiteite en fondsinsameling ten bate van die Dienssentrum.

Met ‘n propvol program van bekende kunstenaars, plaaslike talent en verskeie aktiwiteite vir oud en jonk, is die gemeenskap reeds opgewonde oor wat vanjaar se fees gaan bied.

Die Piesangskille en Chris Steyn op die kaart

Volgens die voorsitter van die Kierieklapper-fees, Johan Kirchner, skop die fees Donderdagaand af met Die Piesangskille, terwyl Chris Steyn Saterdagaand die hoofverhoog op ‘n hoogtepunt sal afsluit.

Die Piesangskille tydens hul optrede by die 2025 Kierieklapper Musiekfees.

“Ons gaan regtig ons bes doen om seker te maak dat mense die fees geniet. Daar gaan weer ‘n gewilde Dienssentrum-stalletjie wees waar besoekers heerlike pannekoeke en jaffels kan koop,” sê Kirchner.

Hy moedig inwoners aan om die geleentheid aan te gryp om een van Mokopane se grootste jaarlikse hoogtepunte by te woon en raai besoekers aan om die optreeprogram dop te hou sodat hulle nie hul gunstelingkunstenaars misloop nie.

Die goeie nuus is dat die hekpryse dieselfde as verlede jaar bly.

Een van Donderdagaand se hoogtepunte is die gasvrougeleentheid waar Hannes van Wyk (Kwêla) en Coenraad Rall hul gewilde produksie, ‘Hartsbriewe’, in die skoolsaal gaan aanbied.

‘n Klein span met ‘n groot droom

Kirchner sê die feit dat die Kierieklapper-fees reeds 26 jaar suksesvol aangebied word, is iets waarop die gemeenskap trots kan wees.

“Ons is ‘n klein boeregemeenskap en baie ander feeste in Limpopo het oor die jare verdwyn. Ons glo ons het by die regte beginsels gebly. Ons maak nie staat op groot borge nie, maar werk hard om ons eie plek in die son te verdien. Dit maak die fees uniek.”

Die Kierieklapperkomitee nooi die gemeenskap uit om die fees te ondersteun.

Hy voeg by dat slegs agt mense, bestaande uit komiteelede, personeel van die Dienssentrum en ‘n paar toegewyde vrywilligers, verantwoordelik is vir die reëlings van die groot jaarlikse geleentheid.

Iets vir elke smaak op die program

Benewens die kunstenaars op die hoofverhoog, wag daar ook talle ander aktiwiteite op besoekers.

Plaaslike kunstenaars sal in die biertuin optree, terwyl stalletjies, ‘n pretdraf, ‘n gholfdag op Saterdag, Mej. Kierieklapper en ‘n spesiale verrassing vir die jeug ook op die program is.

Kos, pret en stalletjies is gewoonlik deel van die Kierieklapper Musiekfees.

Saterdag begin die kunstenaars vroeër optree, terwyl André Schwartz die fees Sondagaand met ‘n gratis vertoning afsluit waarvoor almal welkom is.

Elke bordjie kos maak ‘n verskil

Kirchner beklemtoon egter dat die fees veel meer as net vermaak bied.

Die inkomste wat tydens die Kierieklapper Musiekfees gegenereer word, is noodsaaklik vir die voortbestaan van die Dienssentrum.

“Indien ons nie hierdie fees aanbied nie, sal die dienssentrum nie kan oorleef nie. Ons waardeer elke bydrae, skenking en vorm van hulp wat ons ontvang, want sonder die gemeenskap kan ons nie voortbestaan nie.”

Hy verduidelik dat die dienssentrum steeds maaltye aan bejaardes teen slegs R15 per bord voorsien, terwyl die werklike koste sowat R55 per maaltyd beloop. Die tekort van R40 per bord moet deur borge en fondsinsameling aangevul word.

“Daar gaan werklik iets vir almal wees by die fees, van jonk tot oud. Ons bring uitstekende kunstenaars na Mokopane sodat mense nie ver hoef te reis om gehaltevermaak te geniet nie.

“Vir ‘n billike prys kry besoekers drie dae se musiek en vermaak, terwyl hulle terselfdertyd die bejaardes in ons gemeenskap ondersteun.”

Kry jou bandjie betyds

Bandjies vir die fees is reeds vanaf Woensdag, 29 Julie, vooraf by CPS en die dienssentrum beskikbaar. Toegang tot die terrein is in Pretoriusstraat, met die uitgang in Geyserstraat.

Volgens die komitee is die visie om die Kierieklapper Musiekfees jaar ná jaar verder uit te bou, sodat dit kan aanhou groei en ‘n betekenisvolle verskil in die lewens van bejaardes in die gemeenskap kan maak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button