8 000 stroom deur hekke by Mokopane se Kierieklapper Kunstefees
Van Hartsbriewe se skoolsaal-opening tot 'n pienk-getemde Mej. Kierieklapper – die 26ste fees het geld ingesamel vir die Dienssentrum vir Bejaardes.
MOKOPANE – Die 26ste Kierieklapper Kunstefees het die afgelope naweek behoorlik lewe na die dorp gebring, met feesgangers wat saamgetrek het om musiek, kuns, vermaak en ‘n verskeidenheid stalletjies te geniet.
Die jaarlikse fees het weereens gewys waarom dit ‘n geliefde instelling op die plaaslike kalender is, met iets vir oud en jonk om te geniet. Die fees is van 6-8 Augustus by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se sportgronde aangebied.
Warm Bosveldweer lok groot skare feesgangers
Die lekker warm Bosveldklimaat het jonk en oud aangemoedig om te deel in die wonderlike atmosfeer, waar daar ongeveer 8 000 toeskouers deur die hekke gestroom het.
“Ons as feeskomitee is ongelooflik tevrede met die fees. Dit was baie lekker gewees, die voorvalle is geminimaliseer, die vloei van mense het baie beter gegaan as in die verlede en ons is baie dankbaar dat die fees goed afgeloop het,” het Johan Kirchner, Kierieklappervoorsitter, vertel.
Fondse vir die Dienssentrum vir Bejaardes
Hy voeg by dat die fees ‘n jaarlikse instelling is en deel vorm as ‘n geldinsamelingsprojek vir die Dienssentrum vir Bejaardes.
“Baie dankie aan elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het, elke stalletjie eienaar asook elke borg, dit maak ‘n geweldige groot verskil vir die bejaardes van die dienssentrum, wat regtig die geld bitter nodig het om daar te kan eet – teen R15 ‘n bord kos met die balans wat deur die borge en die Kierieklapperfees gedelg word.”


Hartsbriewe skop fees af
Die fees het vanjaar weer ‘n hele paar hoogtepunte opgelewer, onder meer Hannes en Coenraad met ‘Hartsbriewe’, wat die fees afgeskop het in HPP se skoolsaal, en waarmee hulle beslis die gehoor se harte gevul het met omgee en liefde.

Op die feesverhoog was Kwaggabees, Zaan Sonnekus, Die Piesangskille, Liefvlam, Dillon Lerm, Fatman, Jakkals Vibes, Tamlyn Wessels en Chris Steyn.



Vermaak vir almal, van dans tot ‘n pretdraf
Daar was natuurlik ‘n hele paar optredes wat groot skares gelok het, onder meer die dansers van Z’s Dance Studio, asook die Lucky You Game Show.

Die pretdraf het talle fiksheidsentoesiaste gelok.
Pienk tema vir Mej. Kierieklapper
Die Mej. Kierieklapper-kompetisie was vanjaar weereens ‘n groot hoogtepunt gewees met die modelle netjies in pienk uitgevat, wat die tema vanjaar was.
Sondagaand het André Schwartz die vermaaklik afgesluit in die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk.

Die komitee bedank die gemeenskap wat die fees ondersteun het.
“Ek wil my span wat saam met my gewerk het bedank. Hulle is ongelooflik goed, profesioneel, en sê nooit ‘nee’ as ‘n mens hulle iets vra nie, dit was heerlik om saam met almal te werk. Ons het ‘n wonderlike fees gehad, en ons dank die Here dat Hy ons vasgehou het in die feestyd.”




