Ramkatjies: Ons berei ’n klein mensie voor vir die lewe
Kinders leer haar om stadiger te kyk en die klein oomblikke raak te sien, vertel Ninette Herbst, wat aan die hoof staan van PLS Ramkatjies Kleinkindontwikkelingsentrum.
Met 30 jaar ervaring in die onderwys, sluit Ninette Herbst in Januarie by Pietersburg Laerskool aan as die hoof van PLS Ramkatjies Kleinkindontwikkelingsentrum.
My visie is dat Ramkatjies die begin van ’n langtermynreis sal wees vir elke gesin, en dat ons as een familie sal funksioneer. Ons kinders en hulle ouers moet voel: Hier behoort ons. Hier groei ons. Hier is ons deel van iets groter.
As hoof wil Ninette sigbaar, betrokke en toeganklik wees.
“Ek wil saam met die personeel werk, hulle ondersteun en aanmoedig, maar ook saam met hulle lag en die lekkerte van ons werk geniet. Vir my kom alles uiteindelik terug na die kinders. Ek wil hê elke kind moet voel hy behoort hier, is veilig, geliefd, belangrik en in staat om te doen wat van hom verwag word.
PLS Ramkatjies staan in sy beginfase en Ninette sê die geleenthede om te groei en ontwikkel is legio.
“Wanneer ons die begin reg kry, bou ons nie net vir vandag nie , ons bou vir die kind, die familie en die skool se toekoms. Ek wil fokus op ‘n sterk holistiese ontwikkelingsgrondslag en -program, personeelontwikkeling, goeie kommunikasie met ouers en die skep van ‘n sterk identiteit vir Ramkatjies. Ons moet aan die einde van die eerste jaar kan sê: Ons het gegroei, nie net in getalle nie, maar in kwaliteit, kultuur en vertroue.”
Ninette dink die grootste uitdaging is om vir ouers in die gemeenskap te wys wat Ramkatjies werklik bied en waarom dit ’n besonderse plek is vir ’n kind om te begin. Dit is belangrik dat almal die waarde en sukses ervaar en sien in die glimlagte van die kinders, in hul ontwikkeling, in die liefde en sorg wat hulle ontvang en in die verhouding wat tussen die personeel en ouers is, vertel sy.
“Vir my gaan dit daaroor om Ramkatjies se identiteit sterk te vestig.”
Deur konsekwentheid, goeie kommunikasie en kwaliteit beoog Ninette om dié uitdaging te oorkom. Sy sê ouers moet nie net kliënte wees nie; hulle moet vennote wees. Hulle moet die visie verstaan, die waarde van die program beleef en vertroue hê in die opvoedkundige pad wat vir hulle kinders gebied word.
Kinders moet egter nie net akademies ontwikkel nie, maar ook emosioneel en sosiaal. Ninette sê dat elke oomblik in ’n kleuter se dag ’n geleentheid is om iets te leer.
Dit is nie net tydens ‘n formele aktiwiteit wat ontwikkeling plaasvind nie, maar dit gebeur ook wanneer kinders saam speel, gesels, luister, sing, deel en selfs wanneer hulle leer om ’n probleem saam met ’n maatjie op te los.
Ons gebruik spel, musiek, stories, beweging en praktiese ervarings om kinders te help om nie net akademies te groei nie, maar ook emosioneel en sosiaal. Kinders moet leer om hul gevoelens te verstaan, ander in ag te neem, respek te hê en in hulself te glo.
Ninette glo kinders het vandag meer as ooit tyd, aandag, liefde en veilige grense nodig.
“Hulle het volwassenes nodig wat opdaag. Ouers is ’n belangrike deel van die span. Die beste resultate word bereik wanneer die ouer en die skool in dieselfde rigting beweeg. Ons werk almal met dieselfde doel: wat die beste vir die kind is.”
Vinnige feite:
- Waar het jy grootgeword? Ek het in Middelburg, Mpumalanga grootgeword.
- Waar het jy studeer? Ek het my HOD Pre- en Junior Primêr voltooi by Goudstad Onderwys Kollege.
- Waarom werk jy juis met kleuters en nie met ouer kinders nie? Ek dink my hart lê eenvoudig by die begin.
- Is daar spesifieke behoeftes in die gemeenskap wat jy graag deur die sentrum wil aanspreek? Ek dink daar is ’n groot behoefte aan ’n veilige, betroubare en kwaliteitplek waar ouers met gemoedsrus hul kinders kan laat terwyl hulle werk, en waar hulle weet hul kinders word nie net versorg nie, maar ook ontwikkel.
- Wat is jou gunsteling deel van met jong kinders werk? Daardie oomblik wanneer jy die ‘Aha!’ in hul oë sien. Dit is vir my baie spesiaal.
- Wat het kinders jou oor die jare geleer? Hulle het my geleer om stadiger te kyk en die klein oomblikke raak te sien. ‘n Glimlag, ‘n spontane drukkie, ‘n snaakse opmerking of die trots wanneer hulle iets vir die eerste keer regkry. Kinders het my geleer om meer te lag en om in die oomblik te wees. As ons net geduldig genoeg is om die klein mensies te leer ken en te verstaan, ontdek ons iets besonders in elke dag.
- Wat hoop jy sal kinders onthou wanneer hulle eendag terugkyk na hul tyd by Ramkatjies? Ek hoop hulle onthou die juffrou wat hulle name geken het, die maatjies saam met wie hulle gelag en gespeel het, die liedjies wat hulle gesing het en al die oomblikke wat hul dae besonders gemaak het.




