Nog ‘n titel vir gholfspeler Nathan (14)
Die 14-jarige Nathan Faver het die RSA Champion of Champions se C-afdeling gewen en droom daarvan om sy gholfloopbaan verder te ontwikkel.
POLOKWANE – Die 14-jarige Nathan Faver het onlangs deurgedring na die GolfRSA Champion of Champions se nasionale eindronde, waar hy as wenner van die C-afdeling vir mans gekroon is met 73 punte ná rondtes van 40 en 33.
Volgens Nathan was die kompetisie sterk en het hy nie verwag om as kampioen weg te stap nie.
“Die oomblik wat ek besef het ek het genoeg punte aangeteken om die titel te wen, was ongelooflik. Dit was ’n groot verligting,” sê hy.

Harde werk agter die skerms
Nathan speel al van ’n jong ouderdom af gholf, maar het eers in gr.6 by Oosskool ernstig begin meeding. Hy oefen sowat vier ure per dag om sy spel en voorgee te verbeter.
Tweede ronde bring nuwe uitdagings
Hy sê tydens die eerste ronde van die nasionale toernooi het alles goed saamgewerk, maar die baan het gedurende die tweede ronde moeiliker gespeel, veral weens die penplasings op die setperke.
“Daar was nie ’n spesifieke hou of putjie wat volgens my ’n groot verskil aan my eindtelling gemaak het nie, maar ek het baie korthoue geslaan wat ’n groot rol gespeel het. My dryfhoue is beslis die sterkste deel van my spel. Dit het my in goeie posisies gesit om goed te vaar.”
Die stryd in die kop
Volgens Nathan is die geestelike aspek van die spel die moeilikste, om nie te veel oor die spel te dink nie en net sy beste te doen.
“By hierdie toernooi het ek geleer dat elke hou tel. Ek het die eerste ronde met een punt voorgeloop, maar nie so goed in die tweede ronde gespeel nie. Dus moes ek baie harder werk vir punte.”

Wie hy bewonder
Suid-Afrikaanse gholfspeler Ernie Els is Nathan se gunsteling speler.
“Ek bewonder sy rustige tempo en oor die algemeen slaan hy mooi. Hy het in die era van Tiger Woods gespeel en was vir Tiger goeie kompetisie, al was Tiger die beste speler in gholf.”
Groot drome vir die toekoms
Nathan se doelwit is om onder die top vyf spelers te wees. Sy raad aan jonger spelers wat in sy voetspore wil volg, is om hard te werk.
“Dit is ook belangrik om te onthou dat wen nie altyd die belangrikste aspek van die spel is nie. Deur te verloor leer jy dikwels meer as wat jy leer deur te wen.”
Nathan gaan in 2027 by Menlopark aansluit.




