Polokwane se Oom Kobus hoop sy seëlboek kan ’n verskil maak
Kobus Olivier het sy seëls sedert die 1960’s bewaar. Nou hoop hy om die versameling te verkoop en iets aan ander terug te gee.
POLOKWANE – Op 73 het Oom Kobus Olivier ‘n skatkis vol herinneringe, ‘n leeftyd van harde werk, sukses, gesondheidsprobleme en teleurstellings.
Waar hy nou by SAVF Martha Hofmeyr woon, is hy vasbeslote om steeds ‘n verskil te maak.
“Ek het as ‘n jong laerskoolseun begin om seëls te versamel. Dit was in die vroeë 1960’s en ek het seëls wat so ver terug dateer soos die 1940’s.”
Hy vertel dat sy grootouers destyds ‘n kafee, bakkery en nog ‘n winkel besit het, en dat hy dikwels seëls per pos bestel het.
“Ek het later opgehou om te versamel, maar ek het dit wat ek reeds gehad het, behou. Nou wil ek dit verkoop. ‘n Seëlkenner en -versamelaar het in ‘n stadium vir my gesê ek sal meer as R1m vir my versameling kry. Ek is egter bereid om minder te aanvaar.”
Kobus wil graag ‘n deel van die opbrengs aan ‘n liefdadigheidsorganisasie skenk.
“Ek wil graag ‘n verskil in ander se lewens maak.”
Kobus se enigste inkomste is ‘n staatstoelaag, waarvan bykans die hele bedrag aan sy verblyf bestee word.

‘n Familielid help hom maandeliks met ekstra geld, maar hy erken dat hy eerder onafhanklik wil wees.
“As ek ‘n paar van die waardevolle seëls kan verkoop, sal ek kan oorleef sonder om van ander afhanklik te wees. Indien iemand belangstel in die seëls, kan hulle ‘n katalogus bring sodat ons die waarde daarvan kan bepaal.”
Hy sê hy het ‘n paar jaar gelede uitgevind dat een van sy seëls, ‘n tiekieseël, sowat R15 000 werd is. Die versameling bevat ook seëls wat op koeverte was, asook seëls van talle ander lande.
Kobus erken dat hy in isolasie leef en nie maklik met die ander inwoners te doen het nie. Tog wil hy steeds iets vir ander beteken en sê hy sal graag seminare wil aanbied en toesprake lewer.
“Verskeie mense wat my seminare bygewoon het, het later getuig van bevordering in hulle werksomgewing. Ander se sukses is ‘n beloning vir my. Ek wil graag iets beteken in die laaste deel van my lewe.”
Kobus glo sy lewenservaring help hom steeds om elke dag aan te gaan. Hy glo ook dat God hom dra en in sy behoeftes voorsien.
Lesers wat in die versameling belangstel, kan ‘n e-pos stuur na maretha@nmgroup.co.za.




