Local News

Coetzee bevestig DA-lojaliteit ná skuif na Waterberg Distriksraad

Die voormalige Mogalakwena-wyksraadslid sê haar nuwe rol op distriksvlak sal nie haar toewyding aan die gemeenskap verander nie.

MOKOPANE – Yolande Coetzee, uittredende DA-wyksraadslid van wyk 32 in Mogalakwena, het inwoners verseker dat sy steeds ten volle tot die DA en die gemeenskap verbind is ná haar skuif om die party op die Waterberg Distriksraad te verteenwoordig.

Coetzee sê sy is bewus van vrae en onsekerheid onder inwoners oor haar besluit om op distriksraadvlak betrokke te raak en of sy steeds deel van die DA-span in Mogalakwena sal wees.

Inwoners kan gerus wees

“Ek wil inwoners en kiesers verseker dat ek steeds 100% deel is van die DA-span in Mogalakwena en ten volle daartoe verbind bly om ons kiesers en gemeenskap na die beste van my vermoë te dien.

“My verbintenis tot dienslewering strek verder as wyksgrense, en ek is nou selfs meer gemotiveerd om ‘n groter verskil in mense se lewens te maak,” sê sy.

Coetzee verduidelik dat haar nuwe rol haar die geleentheid sal bied om aandag te gee aan diensleweringskwessies wat nie net Mogalakwena raak nie, maar die hele Waterberg-distrik beïnvloed.

Sy het die funksionering en dienslewering van plaaslike brandweerdienste, ambulansdienste en hospitale as van haar belangrikste prioriteite uitgesonder.

“Dit is noodsaaklike dienste waarop inwoners staatmaak, en ek sien daarna uit om op distriksraadvlak te help aandring op beter dienslewering, groter aanspreeklikheid en oplossings vir die uitdagings waarmee ons gemeenskappe daagliks te kampe het,” sê sy.

Haar opvolgers is dinamiese persone

Coetzee het ook Anuscha Kruger, die nuutverkose DA-wyksraadslid vir wyk 32, en Monique Maartens, wat wyk 31 sal verteenwoordig, gelukgewens.

Sy beskryf albei as dinamiese persone wat die belange van inwoners op die hart dra en sê sy het volle vertroue dat hulle die gemeenskap met toewyding en passie sal dien.

Coetzee is positief oor wat die ses DA-raadslede in Mogalakwena, saam met haar op distriksraadvlak, oor die volgende vyf jaar kan bereik.

Sy glo dat spanwerk en ‘n volgehoue fokus op dienslewering ‘n betekenisvolle verskil in die gemeenskappe kan maak.

“Ons lojaliteit bly by ons gemeenskappe. Ons sal voortgaan om die belange van Mogalakwena en die groter Waterbergdistrik eerste te stel en ons verantwoordelikhede na die beste van ons vermoë na te kom,” sê sy.

Coetzee voeg by dat die pad vorentoe nuwe uitdagings, maar ook geleenthede bied om ‘n verskil te maak.

“Ek bly verbind tot die DA, ons span en, bowenal, die mense wat ons die voorreg gee om hulle te verteenwoordig. Saam bou ons aan ‘n beter toekoms vir Mogalakwena en die Waterbergdistrik,” sê sy.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button