Local News

Akademie Reformia-leerders ontdek die wêreld van boerdery

’n Akademie Reformia-plaasbesoek buite Polokwane het graad 4-leerders bekendgestel aan gewasverbouing, voedselproduksie en die wêreld van landbou.

POLOKWANE – ‘n Besoek aan ‘n gewasseplaas buite Polokwane het Akademie Reformia se gr. 4-leerders onlangs die geleentheid gegee om hul klaskamerkennis prakties toe te pas en meer oor gewasverbouing te leer.

Die leerders het die plaas op 5 November besoek as deel van hul gr. 4-geografiekurrikulum.

Graadvoog Elzette Pretorius, sê die leerders behandel gedurende die derde kwartaal die tema van voedsel en boerdery in Suid-Afrika.

“Hier leer hulle onder andere oor die verskillende soorte boerderye, vrugteplase en hoe voedsel verbou word. Ons probeer om vir die leerders geleenthede te skep waar hulle dit wat hulle in die klaskamer leer, ook prakties kan ervaar. Die plaasbesoek was dus ‘n wonderlike geleentheid om die teorie met die praktyk te verbind.”

Van klaskamer na plaas

“Die hoofdoel van die uitstappie was om die leerders meer oor gewasverbouing te leer. Hulle het onder meer soetrissies, eiervrugte, komkommers en waatlemoene van naderby bekyk.

“Daar was egter ook ‘n paar rooibokke op die plaas, wat ‘n lekker ekstra verrassing was.

“Die leerders kon sien hoe die verskillende gewasse groei, hoe dit versorg en besproei word, asook hoe die produkte geoes en verpak word voordat dit versprei word. Hulle het selfs die geleentheid gekry om van die vars produkte te proe,” het sy vertel.

Meer as net ’n uitstappie

Die besoek het ook by sommige leerders ‘n belangstelling in ‘n moontlike loopbaan in die landboubedryf aangewakker.

De Wet Hoogendyk het die uitstappie baie geniet en vertel dat hy graag eendag ’n vrugte- en wildboer wil word.

Dawid Crous deel dié belangstelling.

Dawid Crous geniet die besoek aan die plaas.

“Ek wil met gewasse, wild en vrugte boer. Een van die lekkerste dele van die uitstappie was die geleentheid om vars waatlemoen en komkommer te eet.”

Elzette hoop dat die leerders ná die besoek ‘n groter waardering vir boerdery en die landboubedryf sal hê.

“Daar is baie meer agter die kos wat daagliks op ons tafels beland as wat ‘n mens aanvanklik besef. Hulle kon self sien hoeveel beplanning, harde werk, water, sorg en toewyding nodig is om gewasse suksesvol te verbou. Ons wil hê hulle moet besef hoe belangrik boere vir ons land en sy mense is.”

By Akademie Reformia glo die personeel dat leer nie net binne die vier mure van ’n klaskamer hoef plaas te vind nie.

Praktiese uitstappies gee leerders die geleentheid om hul kennis uit te brei, vrae te vra en nuwe dinge te ontdek, terwyl hulle leerervarings opdoen wat lank by hulle sal bly.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button