Onnie Werner de Beer voltooi onderwyssirkel
Werner het by Normaal Kollege Pretoria begin onderwys studeer en was eers ‘n hoërskoolonderwyser voordat hy na die laerskool beweeg het.
POLOKWANE – Na 12 jaar uit die onderwys het Werner de Beer besluit om terug te keer. Hy bied nou sy gunsteling vak, tegnologie, by Oosskool aan.
Werner kom uit ‘n onderwyshuis met sy ma, pa en suster wat almal onderwysers is.
“Ek sou nie onderwys studeer het nie. Ek was in Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en wou net paaie en brûe bou. Ek het aansoek gedoen om by Pretoria Tegnikon te studeer. My aansoek is goedgekeur en ons was besig om blyplek te reël toe ek ‘n week voor die tyd vir my pa sê ek wil dit nie meer studeer nie.”
Werner het by Normaal Kollege Pretoria begin onderwys studeer en was eers ‘n hoërskoolonderwyser voordat hy na die laerskool beweeg het. Hy onthou sy eerste dag as onderwyser was hy onseker, met ‘n hol kol op sy maag, skerts hy.
Hy is egter vinnig verwelkom en kon sy voete maklik vind.
“Die dag wat ek by Oosskool begin het, het ek dieselfde gevoel as destyds gehad. Ek is weerens warm verwelkom.”
As jong man en pa van twee kinders, het hy 12 jaar gelede besluit om die swartbord vir die mynhope te verruil. Sy liefde vir die kinders het hom teruggeneem skool toe en hy het Januarie by die Oosskool-familie aangesluit.
“Ek is ‘n gebore onderwyser. Dit is lekker om te sien ek maak ‘n verskil in die kinders se lewens. Die satisfaksie daarvan maak die werk die moeite werd.”
Werner gee tans tegnologie en geografie vir die gr. 7’s, en is ook betrokke by die afrigting van die rugby vir o/9’s en krieket by die o/10’s.
In sy vrye tyd is hy ‘n kranige hengelaar wat reeds twee keer provinsiale kleure verwerf het, en van 2005 tot 2018 elke jaar Suid-Afrikaanse kleure ontvang het.
Wanneer hy nie langs die viswater is nie, hou hy daarvan om in sy motorhuis besig te bly.




