PHS kry raakvat-hokkiedirekteur
Die 29-jarige Cross, wat op 'n astroturfbaan ewe bedrewe is as speler, afrigter en skeidsregter, het vanjaar by dié skool aangesluit as hokkiedirekteur – 'n eerste vir PHS.

POLOKWANE – Dis met die intrapslag duidelik: Shawn Cross beoog om die reeds-blink hokkietrofeërak by PHS nou éérs uit sy nate te laat bars.
Die 29-jarige Cross, wat op ‘n astroturfbaan ewe bedrewe is as speler, afrigter en skeidsregter, het vanjaar by dié skool aangesluit as hokkiedirekteur – ‘n eerste vir PHS.
Hy en sy vrou, Laura, het einde verlede jaar die Nelspruit-stof van hulle voete afgeskud, om hulle intrek hier te kom neem nadat hy as hoëprestasieafrigter en astrobestuurder by Hoërskool Nelspruit werksaam was.
Hy vertel dat hokkie en krieket hom reeds van jongs af gefassineer het.
“Ek speel reeds van my skooldae in Nelspruit af krieket en hokkie en nadat ek gr. 12 voltooi het, het ek my studies in Pretoria gaan voortsit.”
Hiér, by die Universiteit van Pretoria het hy self uitgedraf en uitgeblink in hokkie, en homself uiteindelik verder sou kwalifiseer: Vandag het hy ‘n indrukwekkende vlak twee-afrigtingsertifikaat (met vlak drie kan hy internasionaal afrig), en ‘n vlak een skeidsregtersertifikaat.
Hy draf ook uit vir die Suid-Afrikaanse Landelike Distriktehokkiespan en neem deel aan die inter-provinsiale toernooi (IPT). Sy onmiddellike taak by PHS is egter om te verseker dat die hokkiemasjien glad loop – en tussendeur die skool se ander sportbedrywighede is dit gewis ‘n reuse taak.
“Die reël van wedstryde, toere en oefeninge, en om seker te maak dit bots nie met die skool se ander aktiwiteite nie, is ‘n groot werk. Een waarvoor ek alles gee.”
Dit lyk of hy al lankal vertroud is met die PHS-manier, en hy vertel dis juis na ‘n gesprek met PHS-adjunkhoof Ina van der Merwe, wat sy pad hierheen laat kronkel het.
“Ek het PHS tydens ‘n Noordvaaltoernooi besoek, en dis hier waar ek vir Juffrou Ina ontmoet het. Ons het heerlik kopstukke oor hokkie gesels. Dit was amper natuurlik dat, toe die pos beskikbaar raak, ek sommer dadelik aansoek gedoen het.”
Hy is merkbaar opgewonde oor vanjaar se hokkieseisoen, en weet reeds hoeveel ure en sweet dit verg.
“Ongeag al die ure en beplanning, bly hierdie werk vir my ongelooflik lekker. Ek kan nie op ‘n beter plek wees nie.”
Laura is in die menslike-hulpbronbedryf, en in hulle vrye tyd gaan dié buitelugegpaar gereeld Nasionale Kruger Wildtuin toe.




