PHS se mooistes kuier in New York
Tydens die kroning van Mnr. en Mej. PHS wat in die skoolsaal aangebied is, was die tema New York en die deelnemers het beslis vir groot vermaak gesorg.
POLOKWANE – ‘n Aand in New York beteken liggies, mense, die Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty) en vele meer, volgens die Mnr. en Mej. PHS-deelnemers.
Tydens die kroning wat Woensdagaand in die skoolsaal aangebied is, was die tema New York en die deelnemers het beslis vir groot vermaak gesorg.
Die aanbieders Izelma Venter en Wian Terblanche het die gaste en beoordelaars verwelkom nadat die Pietieraad met hulle danspassies gespog het. Daarna is die finaliste in hulle informele drag bekendgestel.
Die finaliste was Micke Theron, Theo Schunke, Winette Prinsloo, Jean de Jager, Joné Potgieter, Vincent Luckhoff, Leoné van Schalkwyk, Zarich Lourens, Lara van Staden en TJ Conradi.

Oudergewoonte moes elke deelnemer hul eie inisiatief gebruik om die beoordelaars te beïndruk.
Daar was Lara wat All of me deur John Legend gesing het, ‘n fobdosser, ‘n danser of twee en selfs ‘n dansinstrukteur.
Daar is gek geskeer met Boer soek ‘n Vrou en Lisa met die rooi hare (en glas wyn) was daar om die gehoor te vertel wat op dié realiteitsprogram gebeur. Die hoogtepunt was Joné Potgieter se lewensverhaal wat die gehoor laat skaterlag het.
Na ‘n kort pouse het die deelnemers in hulle formele drag op die verhoog gestap en vrae van die beoordelaars beantwoord.
Uiteindelik was dit tyd vir die kroning en wenners is:
• Mnr. en Mej. PHS 2023 – Joné Potgieter en Zarich Lourens.
• Eerste prins: TJ Conradie.
• Eerste prinses: Micke Theron.
• Tweede prinses: Lara van Staden.
• Tweede prins: Jean de Jager.
• Instagram-wenners: Lara van Staden en Zarich Lourens.

• Persoonlikheidswenners: Micke Theron en Jean de Jager.

• Mnr. en Mej. Fotogenies: Joné Potgieter en TJ Conradie.





