Grootouers bederf by Taberna Dei
Kleuters het vir hulle grootouers gesing en gedans, en na die tyd na al die verskillende stasies beweeg vir 'n foto of drie.
POLOKWANE – “’n Ouma is ‘n tannie wat nie haar eie kinders het nie, en daarom is sy lief vir ander mense se kinders. ‘n Oupa is ‘n man-ouma. Oupas gaan stap saam met seuns en dan praat hulle oor visvang en trekkers. Hulle het ook ‘n knie waarop ‘n mens lekker kan ry. ‘n Ouma hoef niks te doen nie, sy moet net daar wees. As ‘n mens saam met ‘n ouma gaan stap, gaan staan sy by by mooi goed soos paddastoele en goggas sodat jy kan kyk.

“Sy sê nooit jy moet gou maak nie. Oumas is gewoonlik vet, maar nie té vet om ‘n kind se skoene vas te maak nie. Oumas dra ‘n bril en snaakse onderklere en hulle kan hulle tande en tandvleise uithaal. Oumas hoef nie slim te wees nie, hulle moet net weet waarom baklei katte en honde, hoekom hoenders nie kan vlieg nie en wat hulle met lang ore is. Almal moet probeer om ‘n ouma te hê, want hulle is grootmense wat tyd het om met jou te speel.”

Só hoor die Taberna Dei dagsorg en kleuterskool se oumas en oupas tydens dié skool se eerste Oupa en Oumadag, wat onlangs by die skool gehou is.
Kleuters het vir hulle grootouers gesing en gedans, en na die tyd na al die verskillende stasies beweeg vir ‘n foto of drie.
Daar is ook aan kunsprojekte gewerk, en kolwyntjies is versier. Almal was dit eens dat hiérdie werklik ‘n baie spesiale dag was.




