Warm of koud, bly gesond: Wenke vir gesondwees
Review het met Matthew Llewellyn, apteker by Libra Apteek gaan gesels oor hoe om die jongspan gesond te hou.

POLOKWANE – Weerstoestande in die stad is tans wisselvallig, en veral kinders is geneig om siek te word so tussen warm- en koudkry. Review het met Matthew Llewellyn, apteker by Libra Apteek gaan gesels oor hoe om die jongspan gesond te hou.
“Elke keer wat daar ‘n verandering in die temperatuur is, styg infeksies. ‘n Seer keel, verkoue, allergie en soms selfs maagprobleme is maar net ‘n paar van dié simptome.”
Matthew gee aan ouers ‘n paar wenke om hulle kinders gesond te hou.
• Drink baie water.
• Volg ‘n gesonde dieet.
• Leer jou kind om sy of haar hande gereeld te was en hou hulle weg van plekke waar daar baie mense bymekaar is.
• Bad jou kind twee keer per dag om infeksies wat deur sweet veroorsaak word, weg te hou. Moenie dat hulle met nat hare uit die huis uit gaan nie.
• Maak gebruik van kruie wat jou kind se immuniteit versterk.
• Vermy gemorskos en verwerkte voedsel.
• Deur aktief te wees sal jou kind ‘n groter immuniteit op te bou.
“Mense betwyfel die doeltreffendheid van inentings, soos die griepinenting. Studies wys egter dat die griepinenting die risiko om griep te kry, met tussen 40% en 60% verminder,” is sy raad.




