Vriende deel ‘n liefde vir boogskiet
Vroeër vanjaar het Dewald van Heerden sy vriend, Jonathan Muller, ook opgekommandeer om boogskiet uit te toets en nou is die twee manne se liefde vir die sport duidelik.
POLOKWANE – Kranige skut en 3D Noord-Gauteng eersteplekwenner Dewald van Heerden, sê boogskiet verg konsentrasie en die vermoë om nie gou verveeld te raak nie.
“’n Mens doen dieselfde ding oor en oor, en dit verg baie.”
Hy het in 2019 by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé aangesluit en boogskiet in dieselfde jaar opgeneem.
“Nadat ek my knie in rugby beseer het, het die dokter aangeraai dat ek nie verder aan kontaksport deelneem nie. Toe ek sien Tom Naudé bied boogskiet as ‘n sport aan, het ek besluit om deel te neem.”
Dewald onthou sy eerste kompetisie in 2019, en sê hiér het hy nie juis goed gevaar nie, maar dat met die jare het die ondervinding bygekom.
“My mees onlangse kompetisie was die 3D Noord-Gauteng kampioenskappe waar ek ‘n eerste plek behaal het. Boogskiet is ‘n baie individuele sport. Sou ek ‘n slegte dag ervaar, is dit lekker om met my boog te skiet en sodoende te ontspan.”
Dit verg ook baie oefening en dissipline, asook ‘n stabiele hand. Drie ure per dag oefen is vir hom nie vreemd nie.
Sy geheime wapen is sy uithouvermoë ongeag wat rondom hom gebeur.
Vroeër vanjaar het Dewald sy vriend, Jonathan Muller, ook opgekommandeer om boogskiet uit te toets.
“My eerste kompetisie was by Hoërskool Hans Merensky waar ek tweede geëindig het. My laaste kompetisie was saam met Dewald by 3D Noord,” het Jonathan bygevoeg.
Sy liefde vir boogskiet, het Jonathan bygevoeg, is te dank aan sy liefde vir die buitelewe.
“Ek is lief daarvoor om in die natuur te wees en ek het genoeg adrenalien om die boog te trek en raak te skiet. Ek speel graag krieket, ry fiets en hengel.”
Jonathan oefen drie dae per week by die skool en ook oor naweke.
“Die uitdagendste deel van boogskiet is om die afstand te skat, die wind te lees en die boog so stil as moontlik te hou voordat ek skiet. Die lekkerste deel is wanneer die pyl deur die boog trek en om die 11-taak te skiet.”
Die twee manne se liefde vir die sport is duidelik.
“Wanneer ek jag, gebruik ek die boog en ‘n jaggeweer,” sê Dewald, terwyl Jonathan byvoeg hy het al ‘n voël met die boog geskiet. Ek sal graag ‘n bok of ‘n vark wil skiet hierdie jaar. Ek verkies die boog bo die geweer, aangesien ek dink om met ‘n boog te skiet is meer uitdagend as met ‘n geweer.”




