16 jaar van Kruinie-sukses
Tydens sy toespraak het Curro Heuwelkruin se hoofuitvoerendebeampte, Eben Lingenfelder, vertel van talle merkwaardige oomblikke wat 16 jaar gelede plaasgevind het.
POLOKWANE- Curro Heuwelkruin het dié skool se Stigtingsdag verlede week op 14 April gevier.
Die feesvieringe het begin met ‘n gholfdag op 13 April en Vrydagmiddag was dit tyd vir ‘n toutrekkompetisie en hokkiewedstryde. Saterdag het aanskoulike rugby- en netbalwedstryde teen Hoërskool Eric Louw en Duiwelskloof Laerskool gevolg.
Tydens die formele Stigtingsdagfunksie, wat vir die eerste keer in die skool se nuutaangeboude saal gehou is, het Bonolo Malahlela en Khutso Mamaregane ‘n sangduet gelewer.
Rotondwa Ramatsea en Botshelo Motimele het met ‘n duet op die klavier vermaak, en Phethahatso Motsoeneng het ‘n klaviersolo gelewer. Tapiwanashe Chuma het die gehoor op die kitaar vermaak en Pitsi Mokobane het ook ‘n sangsolo gelewer.
Tydens sy toespraak het die skool se hoofuitvoerendebeampte, Eben Lingenfelder, vertel van talle merkwaardige oomblikke wat 16 jaar gelede plaasgevind het.
Onder hierdie tel die aandelemark wat vanweë ‘n resessie in die VS getuimel het en die uitwerking wat dit op die wêreldekonomie gehad het, was enorm. Sikloon Nargis was in dieselfde jaar die oorsaak van 140 000 sterftes in Myanmar.
Lingenvelder het ook uitgebrei oor die babaskoene wat die skool destyds aangetrek het. “Die skool het sy deure in 2008 met slegs 77 leerders, van gr. 1 tot gr. 10 begin. Teen die einde van die eerste semester in dieselfde jaar, het die leerdergetalle met 27 gegroei.
“In Januarie 2023 is daar meer as 760 leerders vanaf twee jaar oud tot gr. 12. Daar was aanvanklik slegs 11 voltydse akademiese personeel, vier deeltydse akademiese personeel, twee administratief, een terreinbestuurder en drie algemene assistente. Vandag spog ons met 63 voltydse akademiese personeel, vier deeltydse akademiese personeel, vyf administratiewe personeel, een terreinbestuurder en ses algemene assistente.”
Vakke wat nou ook deel van die leerprogram vorm sluit in robotika en kodering, kuns, Bybelstudie, musiek, visuele kunste, rekenaarletterkunde en gedramatiseerde kunste.
“Heuwelkruin het ook die vakkeuse vir gr. 10 tot 12 uitgebrei deur Curro Choice by te voeg. Hier kan leerders vakke wat nie deur die skool aangebied word nie, aanlyn met ‘n Curro aangestelde onderwyser neem. Die Heuwelkruin Privaat Kollege het in 2022 die lig gesien vir leerders van gr. 10 tot 12. Leerders wat gr. 9 slaag kan kies om voort te gaan met gr. 10-12 of NCV vlakke 2 tot 4 by die privaat kollege op kampus.”
Die astrobaan, koshuis, landboutonnels, die teerpad na die skool, tweede rugbyveld, snoepwinkel, klubhuis, twee addisionele tennis en/of netbalbane en die hoërskoolgebou het ook deur die jare bygekom.
In 2009 het ouers en leerders die eerste rugbyveld geplant en in dieselfde jaar is die kleuterskool gebou.
Die eerste Engelse klasse open in Januarie 2012 en in 2013 word die nuwe dubbelverdiepinggebou vir die gr. 4-7 opgerig.
“In 2014 bekom Curro die aangrensende grond van dr. Michiel Espach om die bestaande skool van 8.5ha te verdubbel na 17ha. In 2016 word die nuwe administrasiegebou in gebruik geneem en in Januarie 2018 neem leerders hul intrek in die nuwe koshuisgeriewefasiliteite. Ons het ons nuwe skoolsaal in April vanjaar in gebruik geneem,” het hy opgemerk.




