Goue 50-mylpaal vir Erica Pre-Primêr
Al is die meeste voetjies wat elke dag deur Erica Pre-Primêre Skool nog ver van 50 jaar oud af, is hierdie kleuters deel van 'n geskiedkundige dag in die skool se geskiedenis.
POLOKWANE – Wanneer ‘n 50-jaarverjaarsdag gevier word, is die tradisionele geskenk gewoonlik goud.
Met Erica Pre-Primêr se 50-jaarvieringe, wat Vrydagaand by PHS gehou is, is gaste deur ‘n goue toer van die geskiedenis van dié skool geneem.
Erica het sy deure op 10 Mei 1973 oopgemaak vir die stad se kleuters. Die skool het met twee klasse begin en staan vandag reeds op 11 klasse.
Al is die meeste voetjies wat elke dag deur Erica Pre-Primêre Skool nog ver van 50 jaar oud af, is hierdie kleuters deel van ‘n geskiedkundige dag in die skool se geskiedenis.
Die hoof, Monja Groenewald, sê die gebou, wat in Voortrekkerstraat 92 geleë is, was eers ‘n koshuis vir Hoërskool Pietersburg en het later Natuurbewaring se kantore geword. Die gebou is reeds in 1920 gebou en was dus ‘n gebou met historiese waarde.”
Waar die skool met twee klasse begin het, het hulle na 25 jaar met sewe klasse gespog en nou met 11.
“Erica is vanaf 2009 op ‘n nuwe perseel, in die skadu van die kerk. Ons skoollied is deur ds. Dopper Erasmus, wat self ‘n oupa van die skool en leraar by die kerk was, geskryf.”
Hierdié lied lê na aan elkeen wat deel van Erica is, se hart. Gaste van die aand se verrigtinge het baie oud-leerders, hulle kinders en soms selfs kleinkinders ingesluit.
Erica-skoolhoofde:
• 1973-1975: E. Venter.
• 1976-2003: Ineke de Klerk.
• 2003-2015: Ria Elliott.
• 2016-tans: Monja Groenewald.










