Pietie Katelyn stoei wêreldklas
Katelyn Swan neem ook deel aan netbal en atletiek en sê sy balanseer haar tyd tussen netbal en stoei en akademie.
POLOKWANE – Kort voor die eksamen by Hoërskool Pietersburg begin, land die vliegtuig waarin Katelyn Swan (15) van Tunisië af terugkeer – sy het onlangs aan die Afrika Kontinentale Kampioenskappe deelgeneem waar sy ‘n vierde plek in haar stoei-afdeling verwerf het.
Katelyn is lid van die Ion Baciu Stoeiklub en sê die stoeigogga het lankal gebyt.
“My broer stoei al vandat hy drie jaar oud is en ek het my ouers gesmeek om ook te stoei. Hulle het altyd gesê dit is ‘n seunssport, maar het uiteindelik ingegee en my toegelaat om te stoei.”
Sy het uiteindelik in haar gr. 7-jaar begin stoei.
Voordat die span van Ion Baciu na Tunisië gereis het, het Katelyn aan ‘n voorbereidingskamp in Mauritius deelgeneem.
“Hier het ek voorberei vir wat vir my wag op pad na Tunisië en wanneer ek daar sou deelneem – klein details soos wat nodig is om in te pak, en wat maar eerder kan bly. Ons het op die strand gestoei en dit is baie moeiliker as om op ‘n stoeimat te stoei. Ek het in die senior afdeling teen stoeiers van 21 jaar oud gestoei. Dit is ‘n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie.”
Katelyn het skaars grondgevat toe haar paspoort weer gestempel is.
Sy vertel hulle het in Istanbul gestop waar hulle ‘n dagtoer meegemaak het. “Ons het gesien waar die slawe verkoop was en die verskillende kossoorte beleef. Ons het ook Moses se staf gesien.”
Stoeiers weet gewig speel ‘n groot rol in dié sportsoort en Katelyn sê sy beheer haar gewig deur reg te eet.
“Jy word gediskwalifiseer as jy onder of oor die gewig is waarin jy ingeskryf is. ‘n Mens se kop moet ten alle tye reg wees en jy moet gefokus wees. As jou kop nie reg is nie, gaan jy sukkel. Terselfdertyd moet jy nie groot kop kry of aan jouself twyfel nie.”
Sedert Katelyn begin stoei het, het sy heelwat goue medaljes verower. Die lekkerste van stoei vir haar is die tyd wat die stoeiers saam spandeer. “Dit is soos ‘n familie, ons verstaan mekaar en weet waar ons inpas.”
Katelyn neem ook deel aan netbal en atletiek en sê sy balanseer haar tyd tussen netbal en stoei en akademie. Sy wil graag ‘n beurs kry om eendag in die VS te studeer, of sy wil graag ‘n biokenetikus word.
“My pa het gesê ek mag eers na die Afrika Kontinentale Kampioenskappe gaan wanneer ek 16 is. Nou het ek dit gedoen. Ek wil net dankie sê vir almal wat dit vir my moontlik gemaak het.”
Jan Roets, hoofafrigter by Ion Baciu sê hy is baie trots op Katelyn se prestasies.
“Ek is natuurlik baie trots op Katelyn asook al die ander lede wat die span verteenwoordig het. Dit is ‘n groot eer om jou land te verteenwoordig. Dit wys die toewyding en harde werk wat deur al ons stoeiers ingesit is. Dit is ‘n ongelooflike opoffering. As die Here ons spaar gaan ons nog groter hoogtes bereik.”




