Foto’s en stories kry kleur in ‘Piet-My-Vrou’ koerant
Hoërskool Pietersburg se amptelike koerant Piet-My-Vrou bestaan reeds jare en het al vele gedaanteverwisselings ondergaan.
POLOKWANE – By ‘n skool soos Hoërskool Pietersburg is daar ‘n gesonde balans van akademie, kultuur en sport. Daar is ook genoeg aktiwiteite om die leerders en onderwysers besig te hou. Dinge gebeur by die skool en stories met foto’s moet gedeel word.
So is vanjaar se uitgawe van die Piet-My-Vrou, die skool se amptelike koerant, verlede week as deel van die Polokwane Review gepubliseer.

Die Piet-My-Vrou bestaan reeds jare as PHS se amptelike koerant en het al vele gedaanteverwisselings ondergaan.
Dit was eers ‘n onhafhanklike, gedrukte koerant wat verander is in ‘n digitale weergawe. Die kraakvars Piet-My-Vrou is die eerste in hierdie formaat.
Marli Oosthuizen, Yvette van Jaarsveldt en Alexa Schempers het ‘n redaksie by die skool saamgestel, en die projek aangepak. Die Review-span het hand bygesit en met die uitleg gehelp.

In 12 bladsye lig hulle die skool se unieke eienskappe uit. Elke bladsy is gevul met prettige fotos, inligting en selfs ‘n paar brokkies vermaak. Van teateretiket en die hotste seun in die skool tot ‘n stap-vir-stap inligtingstuk oor hoe om te dans met klas.
Dié lekker-lag-leesstof, wat op die stoep of in die dokter se spreekkamer geniet kan word, word tans net twee keer ‘n jaar uitgebring – ‘n koerant gevul met nuus vir oud en jonk en beslis een om op trots te wees.




