Beroepskeuses-pret vir Werk en Wen jonges
Die kleuters het met uitrustings en uniforms wat hul beroepskeuse aandui opgedaag en daar was selfs 'n polisieman en 'n verkeersbeampte.
POLOKWANE – Die terrein van Werk en Wen Pre-primêre Skool het verlede Vrydag gewemel van dokters, verpleegsters en ander beroepslui toe die kleuters met uitrustings en uniforms wat hul beroepskeuse aangedui het, by die skool opgedaag het. Daar was ook ‘n veiligheidswag, ‘n polisieman en ‘n verkeersbeampte, tot in detail uitgedos, wat gesorg het dat alles ordelik verloop.

“Kleuters hou van uniforms en daardie beroepe trek gewoonlik die meeste aandag, maar weens die blootstelling wat selfs kleuters in die media geniet, weet hulle van ander beroepe en volg ook graag die voetspore van ouers en familielede,” meen skoolhoof Monica Strauss. “Die meeste seuns wil in een of ander stadium van hul lewens brandweermanne, en die meisies verpleegsters word,” reken sy.
Besoekers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die gedrukte media en ‘n gesondheidswerker het ook vroeër die skool besoek om vrae te beantwoord oor hul beroepe.




