Lanternstap vir ‘n goeie doel by Akademie Reformia
Honde-eienaars het Vrydagaand deelgeneem in die tweede Lanternstap , by Akademie Reformia.
POLOKWANE – Daar is min veilige plekke in die stad waar ‘n mens met jou hond kan gaan stap, en wanneer jy dus die geleentheid kry om te gaan stap, moet jy dit met beide hande aangryp.

Dit is dan ook wat honde-eienaars Vrydagaand by Akademie Reformia gedoen het toe hulle aan die tweede Laternstap deelgeneem het.

Hierdie inisiatief se doel is om kat- en hondekos vir die DBV in te samel asook om saam met jou hond die natuur te geniet. Die roete strek oor 5km en kan gehardloop of gestap word, en jou hond kan saam hardloop of loop, solank hy aan ‘n leiband vas is.

Voor en na die stap kuier honde-eienaars saam en deel staaltjies oor hulle hondekinders se manewales.

Die Doornkraal Voortrekkers het gesorg vir vermaak vir die jongklomp deur ‘n springkasteel op te slaan.

Von Zwei Dog Training se afrigters en honde het ‘n ruk terug die skool besoek en gevra dat leerders hondekos moet insamel wat ook Vrydagaand aan die DBV oorhandig is.




