Kruinies beloon by prestige-aand
Leerders van Curro Heuwelkruin is aan die einde van die jaar bekroon vir hulle akademiese en sportuitnemendheid.
POLOKWANE – Curro Heuwelkruin se jaarlikse Prestige Prysuitdeling is Donderdagaand gehou, met oud-leerder Rumandi Potgieter as gasspreker.
Potgieter het na skool by die Universiteit van Pretoria (Tuks) gaan studeer waar sy B.Com en LLB studeer het.
Sy is tans besig met haar Meestersgraad in internasionale reg en regstudies. Sy het reeds van skooldae af in netbal presteer en op universiteit is sy aan rugby blootgestel. Tans is sy deel van die vroue Springbokspan.
“Dit is ‘n groot eer om hier te staan. Die skool het my gevorm en gemaak wie ek is vandag. Ek wil julle los met ‘n paar lesse. Ek hoop hierdie lesse sal julle help en lei op julle reis wat voorlê.”
Sy het die volgende lesse aan die gehoor voorgehou:
• Bly altyd naby aan God. Wanneer dit goed gaan, prys Hom. Wanneer dit sleg gaan, prys Hom ook.
• Neem elke oomblik in en onthou dit. Onthou die goeie oomblikke en die slegte oomblikke. Dit is al hierdie oomblikke wat jou vorm in die mense wat jy is.
• Omring jou met goeie mense. Maak seker jy is omring met mense wat omgee en saam met jou sukses wil bereik. Hierdie mense is dikwels jou familie. Hulle sal altyd daar wees vir jou.
• Droom groot. Droom baie groot. Ek het, net soos julle, hier gesit en iewers in my is ‘n saadjie geplant wat my groot laat droom het. Moet nooit ophou droom nie.
















































