Hansies spog met eerste astro in Waterberg
Op 24 Maart het die Hansies die projek amptelik afgeskop in samewerking met Turftech.
MOKOPANE – Die Hoërskool Hans Strijdom is opgewonde om aan te kondig dat hulle besig is met die aanleg van die eerste astroturfhokkiebaan in die Waterbergdistrik – ‘n mylpaal vir sportontwikkeling in die streek.
Volgens skoolhoof Rinus de Jager het alles begin met ‘n droom.
“Soos met baie dinge in die lewe, het dit begin met ‘n visie. Vir ons personeel, leerders en die breër gemeenskap het hierdie droom ‘n werklikheid geword. Na talle geldinsamelingsgeleenthede – en met nog ‘n paar wat voorlê – kan ons nou met trots sê dat ‘n wêreldklas speeloppervlak binnekort deel van ons fasiliteite sal wees,” sê hy.

Op 24 Maart het die Hansies die projek amptelik afgeskop in samewerking met Turftech.
Die aanleg van die baan sal ongeveer vier maande neem om te voltooi. De Jager het spesiale dank uitgespreek aan Lebu van Heerden, die projekbestuurder, asook aan Len van Turftech vir hul toewyding aan dié projek.
“Ons is ongelooflik opgewonde en trots om te sê dat Hans Strijdom die eerste skool in die Waterbergdistrik sal wees met ‘n astroturfhokkiebaan. Ons nooi graag ander skole in die omgewing uit om ook van die baan gebruik te maak,” sê hy.
“Ons sien uit daarna om die baan amptelik te open en almal hartlik te verwelkom. Hierdie projek is ‘n simbool van groei, samewerking en trots – en ons is baie trots op ons skool,” het hy afgesluit.




