Polokwane Robotika-onnie met ‘n passie vir musiek
Pietersburg Laerskool onnie Stian Conradie se motivering vir die liedjies wat hy skryf spruit uit persoonlike ondervindings en gevoelens.
POLOKWANE – Alhoewel die titel van een van Stian Conradie (23) se liedjies ’23 still confused’ is, skerts hy dat hy egter vandag weet wat hy uit die lewe wil hê.
Stian, ‘n oud-leerder van Hoërskool Pietersburg, het in Januarie by Pietersburg Laerskool aangesluit in die robotika-afdeling.
Hy het na skool eers by PNX Global aangesluit waar hy uitvoerende kunste studeer het.
“Ek het besef ek het ‘n passie vir kinders en jongmense en dit is waar die onderwysgogga gebyt het. Ek wil graag ‘n goeie rolmodel vir die kinders wees.”
Stian sê hy het liedjies op alle platforms en sing reeds vanaf sy gr.10-jaar. Op 20 het hy sy eie liedjies begin skryf.
Die eerste liedjie wat hy opgeneem het, was een uit sy eie pen, ‘Hoe Lank Nog’.
“Daar speel aanbiddingsliedjies in my klas as agtergrondmusiek terwyl die leerders werk. Die eerste kwartaal by PLS was fantasties, al was daar uitdagings. Skoolhou is glad nie wat ek in gedagte gehad het nie, maar die wete dat ek kinders se lewens kan verander, motiveer my om elke oggend op te staan en skool toe te gaan.”
Sy motivering vir die liedjies wat hy skryf spruit uit persoonlike ondervindings en gevoelens.
Alhoewel Stian se kitaar nooit ver van hom af is nie, rig hy ook rugby af vir die o/11-span.
Sy musiek is beskikbaar op Spotify en YouTube.




