Schools

HPP se Micke lééf lewe van balans

Micke Prinsloo neem aktief deel aan swem, hokkie, tweekamp, biathle, atletiek, bergfietsry, landloop, jukskei én landsdiens.

MOKOPANE – “Alle eer aan God vir al die gawes, die krag en die geleenthede,” sê Micke Prinsloo, leerder van Hoërskool Piet Potgieter (HPP), nadat sy onlangs as HPP se sportmeisie van 2024 aangewys is.

Vir haar is hierdie titel veel meer as net ‘n toekenning – dit is ‘n erkenning van harde werk, balans en die ondersteuning van mense wat saam met haar hierdie pad stap.

Micke se betrokkenheid by sport is uitsonderlik.

Sy neem aktief deel aan swem, hokkie, tweekamp, biathle, atletiek, bergfietsry, landloop, jukskei én landsdiens.

“Elke sportsoort vra iets anders van my – uithouvermoë, spoed, tegniek en spanwerk, maar saam bou dit my karakter en help dit my om drome na te jaag,” sê sy.

Sy erken dat dit ‘n uitdaging is om haar sport, akademie, landsdiens, sosiale lewe én gesinstyd in te pas, maar sy het die kuns van tydsbestuur bemeester.

“Ek het geleer om elke oomblik optimaal te benut en om balans te vind. My skoolwerk bly altyd ‘n prioriteit. Met goeie beplanning, selfdissipline en ondersteuning is dit moontlik om alles aan te pak.”

Micke is dankbaar teenoor die rolmodelle in haar lewe, en betuig spesiale waardering aan haar swemafrigter, Awie Hattingh, wat volgens haar die fondasie van haar sportloopbaan gelê het.

“Sonder die harde werk in die swembad van kleins af – ek het op vyf begin swem – sou ek nie die atleet wees wat ek vandag is nie.”

Met trots in haar stem sê sy: “Ek is ‘n ware Pottiekaner – my bloed is blou.” Sy bedank HPP vir hul konstante ondersteuning – of dit nou akademiese hulp is, aanmoediging op die sportveld of bloot iemand wat luister wanneer dinge moeilik raak.

Micke bring ook hulde aan haar familie: “Baie dankie aan my ouers en my boetie. Julle liefde, opoffering en onwrikbare geloof in my dra my elke dag. Julle is my grootste ondersteuners, my rots, en my rede om aan te hou glo in myself.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button