‘Balans in belangrik vir leerders’ – Zandria Howards
'n Goed gebalanseerde program wat genoeg tyd vir werk, speel, sosialisering en rus inruim, is noodsaaklik vir 'n kind se algehele welstand.
POLOKWANE – Om die balans tussen buitemuurse aktiwiteite en akademiese verantwoordelikhede te vind, is van groot belang vir ‘n kind se algehele ontwikkeling en sukses.
Aldus Zandria Howard, wat aan hoof staan van akademie by PHS, kan buitemuurse aktiwiteite ‘n negatiewe uitwerking op ‘n kind se akademiese prestasie hê wanneer daar geen beheer en balans is nie.
“Te veel tyd op die sportveld kan negatiewe gevolge inhou. Kinders wat te hard of te gereeld oefen, sal fisies te moeg wees om in die klas op te let of deeglik vir ‘n komende toets te studeer,” het sy gesê.
Howard beklemtoon verder die belangrikheid van ouerbetrokkenheid en leiding om te verseker dat kinders hul tyd doeltreffend bestuur.
‘n Goed gebalanseerde program wat genoeg tyd vir werk, speel, sosialisering en rus inruim, is noodsaaklik vir ‘n kind se algehele welstand.
Sy beveel aan dat ouers en onderwysers saamwerk om seker te maak dat kinders ‘n realistiese en haalbare skedule het, wat beide hul akademiese en buitemuurse verpligtinge akkommodeer.
Dit kan behels dat duidelike grense gestel word, prioriteite vasgestel word en kinders aangemoedig word om eienaarskap van hul tydsbestuur te neem.
Om die risiko van ‘n afname in akademiese prestasie, verhoogde stres en uitbranding te beperk, voeg sy by dat ouers, afrigters en opvoeders proaktief moet wees in hul ondersteuning aan kinders en hulle help om die regte balans tussen aktiwiteite te vind.
Dit sluit in om leiding en ondersteuning te bied in tydsbestuur en organisasie, oop kommunikasie en om gereelde opvolggesprekke te bevorder en kinders aan te moedig om verantwoordelikheid te neem vir hul aktiwiteite en verpligtinge.
Dit berei hulle voor vir sukses in alle aspekte van die lewe.




