Juf. Alta maak boek toe na 22jr. by Hoërskool Pietersburg
Ná 22 jaar diens by Hoërskool Pietersburg (PHS) het Alta Botha aan die einde van April afgetree.
POLOKWANE – Alta Botha ontmoet my vriendelik by die hek en stap saam met my deur haar welige tuin na die voordeur.
Sy vertel dadelik dat tuinmaak een van haar groot passies is – ‘n liefde wat sy van haar pa geërf het.
Haar ander passie lê in die wêreld van wiskunde, rekeningkunde, besigheidstudie en bo alles – onderwys.
Ná 22 jaar diens by Hoërskool Pietersburg (PHS) het Alta aan die einde van April afgetree.
“Dit was ‘n eer en voorreg om vir PHS en die onderwysdepartement te werk. ‘n Skool vat alles van jou, maar dit gee jou ook alles terug,” vertel sy.
Alta het haar B.Com en B.Ed-grade aan die destydse Rand Afrikaanse Universiteit voltooi en by verskeie skole onderrig gegee voordat sy haar plek by PHS gevind het. Sy het altyd geweet sy hou daarvan om dinge aan ander te verduidelik.
“Dit was vir my lekker om wiskunde en rekeningkunde aan my maats te verduidelik. Ek het gehou daarvan om die stappe wat nodig is om probleme op te los, logies uit te lê.”
Sy onthou haar eerste dag as onderwyser in 1982 by Hoërskool Merensky: opgewonde, maar ook onseker.
Sedertdien het sy meer as 30 jaar lank gr. 12-leerders onderrig.
Een van haar gunsteling herinneringe as onderwyser was om top 10-leerders vir ete uit te nooi.
“Daar het ek hul drome en potensiaal regtig leer ken.” Alta moes met die jare aanpas by die digitale wêreld van doen. “Ons het gelukkig opleiding gekry, en dit het my gehelp. Ek het aanvaar dis nodig, en toe het ek dit gebruik.”
Sy het baie by die leerders self geleer, veral hoe goed hulle onderwysers kan naboots. “Kinders sien alles raak, selfs dinge wat jy nie agterkom nie. Hulle is ongelooflike waarnemers.”
Alta haal ‘n kollega, Zandria Howard, aan wat eendag gesê het: “If it is not good, it is not the end. With God it’s always good in the end.” Hierdie woorde het vir haar dikwels krag gegee.
Aan jong onderwysers gee sy die volgende raad: “Wees ‘n voorbeeld in woord en daad, want kinders kyk. Merk boeke minstens een keer ‘n week en beloon goeie werk. Kinders wil weet jy gee om.”
Sy erken dat sy die kinders reeds mis – hul oop gesigte, hul energie, “en ja, selfs hul stoutstreke”. “Ek gaan ook my kollegas en PHS se groen bome mis.”
Alta wil graag vir haar leerders ‘n belangrike les nalaat: “Daar is net twee keuses wat jy self moet maak: jy kies die Here, en jy kies jou lewensmaat. Die res kan vir jou gekies word. Wees altyd jouself want daar is ‘n rede hoekom jy is soos jy is. En hê respek vir ander.”
Alta se klaskamers het altyd ‘n unieke tema gehad. Haar laaste klas se naam was “Pietie Hawe”, waar kreatiewe rolspel en aanbieding deel was van die leerervaring.
Wat lê vir haar voor? “Ek sien uit daarna om deur die land te reis en blomme te kyk,” sê sy opgewonde. Daarna wil sy ‘n plek inrig waar sy ekstra klasse in wiskunde vir laerskoolkinders kan aanbied.
Sy sluit af met woorde van dank: “Ek wil PHS se beheerliggaam en hoof, Adolf Ellis, opreg bedank vir al die wonderlike jare.”




