Mokopane-fietsryers trap-trap só
Fietsryers van skole in Mokopane het onlangs vol ywer aan die laaste Limpopo XCO en XCC kampioenskappe asook die Limpopo 'Champs' fietsrydag by Stanford Lake College deelgeneem.
MOKOPANE – Fietsryers van Hoërskool Piet Potgieter, Laerskool Krugerpark en CVO Skool Potgietersrus het onlangs vol ywer aan die laaste Limpopo XCO en XCC kampioenskappe asook die Limpopo ‘Champs’ fietsrydag by Stanford Lake College deelgeneem.
Daar was ‘n hele paar naelbytoomblike gewees maar die fietsryers het gewys waartoe hulle in staat is.
Altesaam 110 fietsryers het aan die XCO deelgeneem en 80 in die XCC-afdeling.
Die laerskoolfietsryers het hulle goed van hulle taak gekwyt en verskeie podiumplekke behaal.
James Smit (Krugie) behaal ‘n derde plek in die seunssub-nipperkategorie, terwyl ousus Mia Rose Smit (Krugie) ‘n eerste plek behaal het in die meisienipperkategorie.
Sy is ook aangewys as die Limpopo ‘Champ’ van die nippermeisies.
Herlo Genis (CVO) behaal ‘n tweede plek in die seunsnipperkategorie.
William Smit (Krugie) het na ‘n harde val in die vierde plek ingeskuif in die seunsnipperkategorie.
Josua Breytenbach (Krugie) het ook in die seunsnipperkategorie deelgeneem en behaal ‘n 12de plek. Ada Breytenbach (Krugie) het in die meisiessprogkategorie deelgeneem en baie goeie tye gery.
By die seunssprogkategorie was die kompetisie taai maar Payton de Graeve (Krugies) het ‘n vierde plek behaal.
Logan de Graeve (Krugies) behaal ‘n sewende plek en Lohan van der Walt (Krugies) ‘n agtste plek.
In die hoërskool XCC-afdeling het Henro van der Walt eerste geëindig in die ‘youth men’-kategorie en Janco Breytenbach het ‘n vierde plek losgery in die ‘sub junior men’-kategorie, met Marlo van der Walt in die negende plek in die ‘youth men’-kategorie.
In die XCO-afdeling het Henro van der Walt ‘n sesde plek verower in die ‘junior men’-kategorie terwyl Marlo van der Walt ‘n agtste plek behaal in die ‘youth men’-kategorie.
In die ‘sub junior boys’-kategorie het Janco Breytenbach ‘n derde plek opgeraap.
Die prysuitdeling vir die provinsie vind later vanjaar plaas nadat slegs die fietsryers wat gekwalifiseer het vir die Limpopospan, aan die nasionale kompetisie in Oktober gaan ry.
Die fietsryers wat gekwalifiseer het gaan eers later vanjaar bekend gemaak word.










