PLS maak harte warm dié winter
Die projek is van stapel gestuur as 'n teken van waardering teenoor diegene wat daagliks help om voertuie in die dorp veilig te hou.
POLOKWANE – Pietersburg Laerskool (PLS) het op 23 Junie ‘n uitreikaksie gereël waartydens motorwagte, haweloses en behoeftiges komberse, sop en brood ontvang het.
Die projek is van stapel gestuur as ‘n teken van waardering teenoor diegene wat daagliks help om voertuie in die dorp veilig te hou.
Die projek is saam met Kosmos Angels uitgevoer en het verder ook gemik op mense wat in nood verkeer of alleen is, om hulle te help warm bly gedurende die koue wintermaande.

Die dag se sukses was moontlik gemaak deur ouers wat mildelik bygedra het, asook onderwysers wat self die sop voorberei het.
In die gees van omgee en gemeenskapsdiens het die leerders aktief deelgeneem deur die kos en komberse uit te deel.
Bertie Nel van Kosmos Angels het sy waardering uitgespreek vir die skool se betrokkenheid. “Hierdie inisiatief is soos ‘n ligstraal in die tonnel vir baie mense in nood. Die komberse gaan beslis help om die winter ‘n bietjie meer draaglik te maak,” het hy gesê.

Charlotte van den Berg, kunsonderwyser en organiseerder van die projek, het bevestig dat die skool beplan om voort te gaan met soortgelyke uitreikprogramme.
“Ons sal aanhou om ander organisasies te ondersteun en waardering te toon vir die werk wat hulle in die gemeenskap verrig,” het sy afgesluit.




