Vuiste val by rugby in Polokwane: Afrigter nie betrokke, sê skole
'n Rugbywedstryd tussen Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Hugenote het Saterdag in chaos geëindig toe 'n vuisgeveg ná die eindfluitjie uitgebreek het.
POLOKWANE – Chaos het Saterdagmiddag op die rugbyveld uitgebreek kort nadat die eindfluitjie tydens die eerstespanwedstryd tussen Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoërskool Hugenote geblaas is.
Die wedstryd, wat met 40-25 deur PHS beklink was, is deel van die Noordvaalreeks.
Wat as ’n gewone handskudseremonie tussen die twee spanne begin het, het ontaard toe ’n vuisgeveg tussen spelers én toeskouers uitgebreek het.

Die situasie is binne minute onder beheer gebring, en mediese personeel het een van die spelers op die veld behandel.
Hy is later sonder hulp van die veld af.
Foto’s en video’s van die voorval het spoedig versprei, en dit het daartoe gelei dat daar aanvanklik bespiegel is dat ’n volwassene – moontlik ’n afrigter – met die betrokke geveg gemoeid was.
’n Ooggetuie en ouer van een van die spelers het aan Polokwane Observer vertel: “Ek het foto’s geneem en toe skielik gesien hoe vier spelers van Hugenote een van PHS se seuns aanval. Op een van my foto’s lyk dit of ’n volwassene betrokke was, maar ek het later gehoor dit was nie die geval nie.”
Die skoolhoof van Hoërskool Hugenote, Jaques Moorcroft, het hierdie gerug ook in die kiem gesmoor en bevestig dat die betrokke persoon in die foto nie ’n afrigter was nie.
“Dit was nie ’n volwassene of afrigter nie, maar wel ’n leerder wat weens besering aan die kant gesit het,” het hy gesê.
Beide skole het bevestig dat dissiplinêre stappe teen die leerders geneem word wat betrokke was.
Adolf Ellis, skoolhoof van PHS, sê die aangeleentheid is in goeie gees tussen die twee skole hanteer. “Die dissiplinêre proses is afgehandel, en ek het ’n positiewe gesprek met Jaques gehad.”
Moorcroft het dit beaam: “Ons duld nie geweld onder leerders nie. Gepaste interne maatreëls is reeds getref,” het hy afgesluit.




