Maniere en rygoed
Dat iets so klein jou dag kan omkrap gaan my verstand te bowe.
Dat iets so klein jou dag kan omkrap gaan my verstand te bowe.
Van ongeskikte mense het ek reeds al my “fair share” gehad, soos die Engelsman sê, maar vanoggend se voorval het die koek gevat.
Ek het rustig werk toe gery en was heel ingenome met myself oor die dag wat voorlê, toe ‘n Golf voor my tot stilstand kom soos ‘n steeks donkie in die middel van die pad.
Die rede was glad nie enjinprobleme nie. Nee, die groot ongerief en weerklank van toeters al met die straat af is veroorsaak deur die fraaiste handsakkie wat jy nog gesien het.
Die vrou in die Golf het besluit dat daar ietsie is wat sy absoluut nou dadelik moes kry en niks en niemand sou haar van stryk bring totdat sy die item gekry het nie. Ons mede padgebruikers moes nou maar vir eens en altyd daarmee vrede maak dat werk sou moes wag.
Ek het uit pure frustrasie tot by haar venster gery en vir die vrou gevra of sy regtig nie kon aftrek en haar doedelsakkie op ‘n ander plek uitsorteer nie. Sy het my aangegluur en toe in die vuilste taal en ‘n gillende stemtoon verduidelik waar presies ek kan heengaan en wat ek daar moet gaan doen. Omdat ek maar net ‘n bromponietjie ry, moet ek glo liewer my mond van ander mense afhou.
Wat anders kon ek doen? Ek het om haar motor beweeg en toe maar by die werk gaan sit en dink aan die onreg wat ek myself aangedoen het om iemand, wat ek gedink het verkeerd was, op die regte pad te probeer lei.
Mens moet in vandag se lewe maar maak soos jy wil en na die dinges met die mense wat jou probeer reghelp. Ongelukkig laat my opvoeding dit nie toe nie.
Namens al die motoriste wat elke dag in ‘n konfrontasie betrokke moet raak omdat iemand nie maniere geleer het nie, wil ek net graag sê: Juffrou met die fraai handsak, jy kan daardie handsakkie saam met jou vat na daardie plekkie waarheen jy my gestuur het. Gaan doen wat jy my vertel het om te doen sommer binne-in die handsakkie.
Hier in die regte wêreld is mense met maniere en lisensies wat weet hoe om te bestuur en weet hoe om die son oor iemand anders te laat skyn.
