Boererate met diep wortels
Boererate is deel van die meeste Suid-Afrikaners se kultuur en hierdie raad word nie om dowe neute van geslag na geslag oorgedra nie; hulle werk.
MAKHADO – Boererate is deel van die meeste Suid-Afrikaners se kultuur en hierdie raad word nie om dowe neute van geslag na geslag oorgedra nie; hulle werk.
Review het met ‘n paar senior burgers in Makhado gesels oor hulle gunsteling boererate.
Koekie Loock het raad gehad vir koorsblare en mondinfeksies; die nedrigehotnotsvy.
“Jy smeer dit aan die mondsere en binne ‘n japtrap is die pyn iets van die verlede. Ek glo ook in warm soutwater om absesse te behandel,” het sy verduidelik.
Verder het sy ook huishoudelike wenke gehad.
“Moenie gebrande roosterbrood met ‘n mes probeer skraap nie, vryf twee snye gebrande brood teen mekaar en die brandsels sal makliker afkom.
“Om jou stoflappe meer effektief te maak, gooi ‘n paar druppels gliserien in die afspoelwater. Stryk die lap wanneer hy droog is en dan sal die stof makliker aan die afstoplappie vassit en nie net rondgestoot word nie.”
Koekie glo ook vir vlekke in die bad werk niks so goed soos ‘n lappie wat in lampolie en sout gespoel is nie en ‘n tamatieplantjie in die kombuis hou die vlieë weg.
Doreen Steyn het goeie raad vir hoë bloeddruk.
“Trek pietersielieblare soos tee in kookwater en drink die aftreksel om jou bloeddruk af te bring,” verduidelik sy.
“‘n Mespunt gemmer, ‘n mespunt borrie en ‘n halwe glas melk, goed gemeng twee keer per dag, help vir rumatiek. Daarby kan mens smeerwortel op die seer gewrig sit en mooi vasdraai met ‘n verband vir vinnige verligting.”
Lenie Venter het goeie raad vir babas wat winderig is.
“Sit net twee druppels beetsap in die hoeke van die baba se mond en die winde sal iets van die verlede wees.”
Vir stink skoene stel Lenie koeksoda in die skoene voor.
“Laat staan die skoene met die koeksoda vir ‘n aand of drie en dit sal die reuk absorbeer. Ook glo ek in appelkooskonfyt op ligte brandwonde vir vinnige verligting.”
Meisie Muller sê mens moet ‘n mengsel van sout en gliserien maak en aan enige tipe sweer smeer. “Die mengsel sal enige kwaad of sweersel uittrek,” verduidelik sy.



