BlogsOpinion

Kamma-kamma is hul kwalifikasies

Hoe sal jy daarvan hou om ondersoek en gediagnoseer te word deur ‘n dokter wat nie regtig sy of haar graad gekry het nie maar net voorgee om ‘n dokter te wees? Of jou besigheid se finansiële state word gedoen deur iemand wat nie gekwalifiseer is om dit te doen nie? Of ‘n ongekwalifiseerde persoon …

Hoe sal jy daarvan hou om ondersoek en gediagnoseer te word deur ‘n dokter wat nie regtig sy of haar graad gekry het nie maar net voorgee om ‘n dokter te wees?

Of jou besigheid se finansiële state word gedoen deur iemand wat nie gekwalifiseer is om dit te doen nie?

Of ‘n ongekwalifiseerde persoon werk aan die elektriese stelsel van jou motor, wat honderdduisende rande kos?

En hoe hou jy daarvan om iemand se salaris te betaal wat voorgee dat hy ‘n graad of twee het?

Sy salaris word daarvolgens betaal, maar die persoon het nie regtig die kwalifikasie waarop hy aanspraak maak nie.

‘n Paar dae gelede het die portefeuljekomitee van minister Collins Chabane se staatsdiens en administrasiedepartement bekendgemaak dat 640 amptenare in die departement se kwalifikasies vervals of wanvoorgestel is.

Dit is net in een departement en beslis nie die grootste van alle staatsdepartemente nie.

Dank hulle af, sê ek, en sommer dadelik. Dan kan die uitsonderlike hoë salarisrekening van die staatsdiens verminder word en oneffektiwiteit uitgewis word.

Laat die geld wat hulle met hul leuens verdien het, verhaal word van hulle.

Wanneer jy jou aansoekvorm invul vir ‘n staatsdienspos verklaar jy die volgende: “I declare that all the information provided (including any attachments) is complete and correct to the best of my knowledge. I understand that any false information supplied could lead to my application being disqualified or my discharge if I am appointed”.

Onlangs is twee van Suid-Afrika se ambassadeurs in Japan en in die VS uitgevang omdat hulle nie werklik die doktorsgrade waarop hulle aanspraak gemaak verdien het nie.

Verlede jaar is “doktor” Pallo Jordan op dieselfde manier uitgevang, asook Ellen Tshabalala en Hlaudi Motsoeneng van die SABC.

Mense wat voorgee om kwalifikasies te hê wat hulle nie het nie doen dit doelbewus. Sommige “koop” grade by instellings wat nie bestaan of geregtig is om grade toe te ken nie. Ander skryf in vir ‘n kwalifikasie, maar behaal dit nooit nie.

Instellings wat nooit geakkrediteer is nie ken ook kwalifikasies toe, soos ‘n paar maande gelede in Limpopo gebeur het met ‘n instelling wat nie geakkrediteer was nie, en in die geval word die kwalifikasies nie erken nie.

My innige simpatie gaan uit na mense wat so met ‘n slap riem gevang word. Daar is volgens inligting tot my beskikking sowat 39 sake wat teen sulke instellings landwyd aanhangig gemaak is.

Mense is gewoonlik vreeslik “jammer” as hulle uitgevang word, maar is hulle jammer omdat hulle gelieg het of is hulle jammer dat hulle uitgevang is?

Wat veel meer sê oor die moraliteit van ons samelewing, is dat hulle soms deur andere verskoon word, soos die SABC wat in hofstukke vra dat Hlaudi Motsoeneng nie gestraf moet word oor ‘n leuen wat hy 19 jaar gelede vertel het nie.

Het die man dan nie ook soveel tyd gehad om daaroor te dink en dit reg te stel nie?

Bedrog is bedrog, en dit moet uitgeroei word met besliste en daadwerklike sterk optrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button