BlogsOpinion

GEESTELIKE POTPOURRI: Ek en jy is waar die verskil gemaak word

Napoleon vertel dat maarskalk Ney ‘n uiters dapper man was. Hy het oral gegaan asof dit ‘n tweede natuur vir hom was. Tog het hy een oggend baie moeilik op sy perd geklim. Hy was net te bang vir die geveg wat vir die leër voorgelê het. Sy bene het gebewe en na ‘n lang …

Napoleon vertel dat maarskalk Ney ‘n uiters dapper man was.

Hy het oral gegaan asof dit ‘n tweede natuur vir hom was. Tog het hy een oggend baie moeilik op sy perd geklim. Hy was net te bang vir die geveg wat vir die leër voorgelê het.

Sy bene het gebewe en na ‘n lang tyd het hy op die perd geklim en gesê: “Julle twee bene moet maar lekker bewe, julle sal nog meer bewe as julle weet waarheen ek jul nou gaan vat”.

Daar is tye wat ons bene net bewe in ‘n situasie omdat ons innerlike vrese ons probeer oortuig dat ons gaan misluk, dat ons nie opgewasse is nie en dat ons maar eintlik iemand anders moet kry om iets te doen.

Vrees is deel van die daag-likse lewe en hierdie emosie is ook daar om ons te beskerm. Ons uitdaging is om hierdie vrees ons vriend te maak.

Wanneer iets my buite my gemaksone neem, is ek onseker en ‘n bang gevoel kruip deur my liggaam.

Hierdie gevoel word met ‘n vraag gekonfronteer: “As ek nie bang sou wees nie, sou ek dit doen?”

Die positiewe antwoord op hierdie vraag oortuig my om wel vorentoe te gaan en buite my gemaksone op te tree.

Ons is in ‘n posisie om elke dag weggetrek te word van dit waarna ons eintlik op pad is.

Hierdie wegtrek van waar-heen ons op pad is, is die gevolg van hindernisse wat deur die jare in ons lewe opgerig is.

Ons uitdaging bly om hierdie hindernisse te erken en jou fokus weg te neem van die hindernis na waar jy eintlik wil uitkom.

Wanneer ek alleen bly fokus op die hindernisse wat die emosie van vrees by my losmaak, raak die oplossings vir my onduidelik.

Elke situasie vra van ons om ons fokus te hou op die op-lossing en ons energie daarheen te laat vloei.

Die oplossing wat oorskadu word deur die emosie van vrees, laat ons as’ t ware in ‘n posisie om dit wat ons bang maak nader te trek.

Ons sal mekaar oortuig dat ons glo in God om net in die volgende sin die woordjie “maar” te gebruik.

Alles wat na die woordjie “maar” kom is dit waarop ons regtig fokus.

Byvoorbeeld sal ons sê: ” Ek is seker ek is kind van God maar dit is moeilik om te aanvaar.”

Die gevolg is dat die lys ná die “maar” al langer word en daar gefokus word op dit wat nie aanvaar kan word nie en so die emosie van vrees laat groei.

Ons uitdaging is om nie op die probleme te konsentreer nie maar op die behoefte wat bestaan. Die fokus op die behoefte om vrees my vriend te maak, stuur ‘n boodskap na my hele menswees dat ek kan.

Die Ek Kan-gesindheid laat my nuwe uitdaginge aanpak, laat my krisisse in die oë kyk, laat my toe om jammer te sê en anker my in die sekerheid dat ek met God die lewenspad bewandel. Die Ek Kan-gesindheid maak my ‘n individu wat my geloof uitleef en nie van die een vermaaklikheid na die volgende vermaaklikheid gaan nie. Die gesindheid laat my bene loop waar die donker wêreld desperaat vra na lig.

Jy en ek kan met ons Ek Kan-gesindheid vandag die verskil wees waar jy werk, woon, skool gaan, koop, aanbid en ontspan. Jy en ek is die verskil wat hoop bring wat deurbreek in ‘n samelewing vasgevang in die emosies van vrees. Ons kan want God het reeds.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button