Hoe lyk jou deksel?
MOKOPANE – Sondag by die kerk sien ek vir Johnny en Barta van der Kolff hand aan hand stap. Niks ongewoon daaraan om mense so te sien loop nie, maar gewoonlik is dit ‘n paartjie wat pas verlief geraak of onlangs getroud is en nie genoeg van ‘n geklouery aan mekaar kan kry nie. Hoe …

MOKOPANE – Sondag by die kerk sien ek vir Johnny en Barta van der Kolff hand aan hand stap. Niks ongewoon daaraan om mense so te sien loop nie, maar gewoonlik is dit ‘n paartjie wat pas verlief geraak of onlangs getroud is en nie genoeg van ‘n geklouery aan mekaar kan kry nie.
Hoe mooi die kalwerliefde waar jongetjies skugter en onopsigtelik hande vashou, net om skielik al blosend weg te ruk wanneer dit maar net lyk asof iemand hulle kan raaksien. Vir mense wat reeds die spore van die lewe wys, is dit ietwat ongewoon – en Johnny en Barta wys dat hulle al ‘n lang pad saam kom.
Vra ek toe natuurlik die ooglopende vraag of dit is omdat een van die twee bietjie sukkel om te loop, maar Johnny se antwoord is so eerlik en opreg dat ek met ander oë na die lewe kyk. “Dit is omdat ek lief is vir my vrou.”
Vertel hy toe dat hulle alreeds meer as 70 jaar bymekaar is, waarvan die laaste 58 jaar darem met die sëening van die dominee. Voor u nou hond se gedagtes kry, hulle was van sewe jaar oud gekys, maar het eers op 23 getrou.
In die tyd het Johnny onder andere in 1954 in Kanada by die Statebondspele ‘n goue medalje in boks verower en moes hy daardie tyd se ‘groupies’ hanteer, wie geglo het dat ‘n man wat so kan boks, vir seker ook ander (verskuilde) talente moet hê. Maar wat, Barta het elke keer loshande gewen sodat die groupies nêrens gekom het nie.
Skinder Tannie Paula Erlank, sopas 90 geword, mos anderdag by my oor hoe sy aan Oom Steve gekom het en ek wonder toe hoe dikwels dit blote toeval is dat twee mense bymekaar uitkom.
In Bosvelder se Valentynsuitgawe het u gelees van “Auntie” Winnefred en Hymie wat eers in hul tagtigs en in die ouetehuis mekaar en liefde gevind het. Is daar nog so iets soos liefde met die eerste aanblik en hoe lank hou sulke liefdes dan? Miskien langer as wat ons dink.
Ewenwel, Tannie Paula vertel dat sy op laerskool met ‘n penvriendin in Murraysburg doer in die diep Karoo, iewers tussen Beaufort Wes en nêrens, begin korrespondeer het. Die vriendskap het algaande gegroei, deur hoërskool gehou en ook daarna, sonder dat hulle mekaar selfs net een keer in lewende lywe gesien het. Na skool het sy in Potgietersrus begin werk. Op ‘n dag kry sy ‘n brief van haar vriendin waarin die vertel dat haar vriend, ene Steve Erlank van Murraysburg, werk in die einste Potgietersrus gekry het en sal Paula haar asseblief oor hom ontferm.
Vertel Tannie Paula met ‘n vonkel in die oog dat as sy ‘n ding doen, dan doen sy dit ordentlik. Vir die eerste jaar was hulle net vriende, maar toe begin Oom Steve met ander oë na haar kyk, iets wat sy natuurlik nie ongenëe gevind het nie! Byna twee jaar later is hulle toe ook getroud, ‘n huwelik van 56 jaar. Dit het darem nie die penvriendskap beduiwel nie, want sy en Steve het later op Murraysburg gaan kuier en die vriendin (toe self getroud) het ook by hulle kom kuier.
Bertseba van den Berg vertel dat sy net 17 was toe sy een aand by ‘n vriendin se huis aan ‘n man voorgestel is. Hy was 25, maar so voorbarig dat hy haar dieselfde aand onverwags by die voordeur gesoen het. Sy het ‘n Coleman lamp in haar hande gehad en kon nie keer of klap nie. Later het sy by van sy vriende gehoor dat toe sy die vertrek binnekom, hy aan almal om hom vertel het dat dit sy toekomstige vrou is wat nou net ingestap het. ‘n Maand later is hulle getroud en toe sy 20 is, het sy twee dogters in dieselfde jaar. Hierdie huwelik het 48 jaar aangehou, met Thys wat later stasievoorman in Potgietersrus geword het.
Beter Helfte en ek is nog so ‘n 19 jaar weg van Johnny en Barta se 58 jaar van getroude lewe. U kan my egter glo, op ouderdom 60 (of 70 of selfs 80) is hande vashou wanneer jy en jou geliefde iewers heen stap, net so lekker as destyds toe julle pas ontmoet of getroud is. Probeer dit gerus self.
O ja … en as u nie die vaagste benul het wie op dees aarde Bertseba van den Berg is nie, dink Tannie Gerrie Gerber, sy is van die nou heengegane Volke Modes op die dorp.
